Resensie: Kry insig oor VSA-presidentsvroue agter geslote deure

THE FIRST LADY                                            
7/10
Met Viola Davis, Michelle Pfeiffer en Gillian Anderson
Skepper: Aaron Cooley
(Showmax)

Daar was drie vooraanstaande en lewensveranderende presidentsvroue in die VSA van wie se privaatlewens ons maar min weet.

Die reeks, The First Lady, se skrywer, Aaron Cooley, het drie gekies wat toonaangewende rolle gespeel het en wat eintlik die krag agter hul mans was: Michelle Obama, Betty Ford en Eleanor Roosevelt.

Hoe behou die president se vrou of sogenaamde “first lady” egter haar identiteit? Staan hulle maar net agter hul mans, en bly in hul skaduwee? Of word hulle toegelaat om hul eie persoonlikhede en lewens te hê?

Verder, hoe ver mag hul invloed strek, moet hulle maar altyd tweede viool speel, en ja en amen op alles sê?

Drie fenomenale vroue wys dat hulle van yster gemaak is wanneer hul mans in ʼn politieke krisis beland, of as ʼn president verdink word van buite-egtelike verhoudings, soos Franklin D. Roosevelt. Dit gebeur as sy vrou Eleanor op geheime briewe afkom, hom daarmee konfronteer en vra wat gebeur het.

Michelle Pfeiffer in ‘The First Lady’. (Foto: IMDb)

Betty, Gerald Ford se vrou, het later onder die spanning geknak en ʼn drankprobleem gekry, terwyl Michelle Obama nie bereid was om altyd stil te bly wanneer sy in die publiek aangevat is nie. Die reeks fokus op krisisoomblikke in hul lewens.

The First Lady is nie alleen insiggewend nie, maar gee ook vir ʼn mens ʼn nuwe kykie agter geslote deure– baie beter as die reeks, This England, oor Boris Johnson.

Jy leer in The First Lady se tien episodes die mens agter die openbare beeld ken, en kry nuwe respek vir hulle. Beslis aan te beveel vir die ernstiger televisiekyker.

Dit klink dalk doodgewoon, maar jy sal gou vir die vroue se sjarme val. The First Lady is op Showmax te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.