Resensie: ‘The Night Agent’ pik so vinnig soos ’n kobra

THE NIGHT AGENT                            
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10     
Met Gabriel Basso en Phoenix Raei
Skepper: Shawn Ryan
(Netflix)

ʼn Goeie spioenasiereeks het vier vereistes: ʼn Gesaghebbende en slim held, verkieslik ʼn geheime agent aan wie jy kan glo, ʼn gedugte reeks skurke wat onmoontlike struikelblokke in die held se pad plaas, ʼn intrige wat verkieslik tot in die Withuis strek, en ʼn storie wat so vinnig soos ʼn kobra pik.

Voeg daarby ʼn tempo wat jou duiselig laat en karakters wat jou boei en laat wonder, en jy het ʼn suksesresep vir ʼn goeie, outydse spioenasieverhaal. Onverbeterlik!

The Night Agent voldoen aan al vier hierdie vereistes. Dit gaan oor ʼn gewone outjie, die manlike en gemaklike Gabriel Basso, wat diens doen in die Withuis deur telefone te beantwoord. Wanneer ʼn oproep kom, en ʼn bom ontplof, moet hy die foon los en inspring om die Amerikaanse president te red!

Gabriel Basso en Luciane Buchanan in ‘The Night Agent’. (Foto: IMDb)

Elke aflewering van hierdie 10-episode-reeks is so volgepak, as dit in ʼn Ziplock-sakkie was, het dit uitgepeul. Die plotlyne skakel by mekaar in en komplementeer mekaar. Die verloop is opwindend, dog logies, en die held en heldin gebruik hulle koppe om die regte afleidings te maak, en ingeligte besluite te neem. Hulle moet egter ook op hulle instinkte staatmaak.

As jou langnaweek vervelig was en jy op soek is na ʼn opwindende stromings-vakansie wat jou tot in die hart van aksie met breinselle neem, is The Night Agent vir jou. Dis meevoerend, pakkend en opwindend. Ook uitstekend geregisseer.

Hier kom ʼn lekker ding … Sorg dat jy jou afstandbeheerder op The Night Agent op Netflix klik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

WitBlits ·

Dit was briljant….. Baie goeie reeks – sal dit beslis vir almal aanbeveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.