Soorte resepte:

Resep: ‘Net Koffie’ se Viëtnamese koffiekoek

‘Net Koffie’ se Viëtnamese koffiekoek. (Foto: verskaf)

Berei hierdie interessante versnapering voor wanneer jy begin hunker na ’n smullekker stukkie koek. Hier is die resep vir die Viëtnamese koffiekoek uit die vyfde episode van Net Koffie.

Voorbereidingstyd: 10 min

Baktyd: 45 min

Bestanddele

  • 210 g koekmeel
  • 105 g volgraanmeel
  • 1 t bakpoeier
  • 1 t koeksoda
  • 3 e gemaalde koffie
  • ½ t gemaalde kardemom
  • ½ t sout
  • 90 g witsuiker
  • 210 g bruinsuiker
  • 113 g ongesoute botter by kamertemperatuur
  • 285 g gewone jogurt, volroom
  • ½ t vanielje-ekstrak
  • 2 eiers

Bolaag

  • 395 g versoete kondensmelk
  • 3 e sterk koffie
  • 1 e ongesoute botter
  • ¼ k room

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Smeer en voer die bodem van ʼn 25-cm ronde koekpan uit.
  2. Meng die botter en suiker (wit- en bruinsuiker) vir ongeveer 3 tot 5 minute, of tot baie lig en donsig, in jou menger se bak. Voeg die eiers een op ʼn slag by, meng baie goed tussen elke byvoeging. Meng intussen die gemaalde koffie met die jogurt totdat dit ietwat opgelos is. Klits meel, bakpoeier, koeksoda, sout en gemaalde kardemom in ʼn ander bak. Hou eenkant.
  3. Voeg die helfte van die droë bestanddele by die botter, en meng op lae spoed. Voeg dan die helfte van die jogurt by, meng, dan die oorblywende meel en jogurt, en meng goed. Hierdie proses verseker dat die beslag nie klonte maak nie. Gooi dit in die voorbereide pan en bak dit vir ongeveer 30 tot 35 minute, of totdat ʼn tandestokkie, wat in die middel gesteek is, skoon uitkom.
  4. Terwyl die koek afkoel, maak die boonste laag. Meng die kondensmelk, die koffie en 1 e botter in ʼn kastrol op medium-lae hitte, hou aan om dit met ʼn houtlepel te meng totdat dit verdik en soort van afdop van onder af. Skakel dan die hitte af. Jy kan dit so laat, maar ek voeg ʼn bietjie swaar room by om dit meer los te maak – maar dit is regtig jou keuse. Gooi die mengsel bo-oor die koek en sit dit voor.
  • Net Koffie word op Sondae om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.