Roerende opvolgdokkie oor oorlog op pad

Die oorlogsdokumentêr, “ʼn Pad na Oekraïne”, sal eersdaags op kykNET te sien wees. (Foto: verskaf)

ʼn Span vrywilligers het vroeër vanjaar die pad tussen Nederland en Pole aangepak voordat hulle die grens oorgesteek het om Oekraïne te besoek. Daar het hulle mediese voorraad, kragopwekkers vir hospitale en lekkergoed by kinderhuise afgelewer.

Dié moedige tog is deur ʼn kameraspan vasgevang en sal later vandeesmaand in die kykNET-dokumentêr, ʼn Pad na Oekraïne, te sien wees. Dié rolprent is ʼn opvolgdokumentêr oor die opspraakwekkende, ʼn Bus na Oekraïne, wat in 2022 uitgereik is.

ʼn Pad na Oekraïne volg Martelize Brink en Johan Oldenburg terwyl hulle nie net hospitale en kinderhuise besoek nie, maar ook verskeie vroue wie se lewens deur die oorlog verwoes is. Oldenburg het dié vroue nie net van Pole na Nederland vervoer nie, maar het die afgelope jaar hul daar gehuisves en bygestaan terwyl hulle in ʼn nuwe land en omgewing moes inskakel.

Daar is ook tydens die verfilming van die dokumentêr ingeloer by die pa’s en mans van die vroue en kinders wat na Nederland gevlug het.

Martelize Brink en Johan Oldenburg. (Foto: verskaf)

Brink het gesê dit was vir haar ʼn hoogtepunt om die dapper vroue wat na Nederland geneem is, te ontmoet en onderhoude met hulle te voer oor hulle lewe en aanpassing in die nuwe land, waar hulle met soms met geen of andersins slegs ’n bietjie Engels probeer integreer.

“Die mens is ongelooflik aanpasbaar. Ons mag dalk in ’n groot globale dorp woon, maar kulture verskil geweldig. Die vroue moes inpas by ’n kultuur wat wêrelde verskil van hulle eie.

“Die vroue het ook hooggeplaaste posisies gehad. Vandag is van hulle nie meer skoolhoofde of kernkragingenieurs nie, maar help met opvoeding of maak huise skoon. ’n Mens kan baie vinnig alles verloor,” sê sy.

Die kletsrymer Jack Parow en die sanger Loki Rothman was verantwoordelik vir die protesliedjie, “Wit vlag”, wat ook in die dokumentêre rolprent gehoor kan word.

“Hulle is mense met harte van goud, en hulle is die eerste Suid-Afrikaanse sangers om ʼn liedjie oor die oorlog uit te reik. Die liedjie is uniek,” het Oldenburg, wat die afgelope jaar met Parow en Rothman bevriend geraak het, gesê.

“Die klank en lirieke van die liedjie is beslis onverwags komende van ʼn kunstenaar soos Jack Parow. Dit beeld ʼn ernstiger kant van hom uit.”

  • ’n Pad na Oekraïne word 20 Augustus op kykNET (DStv-kanaal 144) om 20:00 uitgesaai. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Was die Gift of the Givers al daar? Ek verstaan nie mooi nie, help my reg ek is altyd oop vir oortuiging. Wat de hel gaan soek mense altyd in rampgebiede om dokumentere rolprente oor die smarte/bloedvergieting/lewensverliese te maak. Onder ons neuse gaan daar erg of erger dinge aan. Ons buurstate gaan gebuk onder rampe en skade. In ons eie land gaan mense daagliks deur trauma, smart. skade, lewensverlies. Ek het nie ‘n saak wat in Oos Europa aangaan wat ‘n menslike oorsaak het nie. Charity starts at home.

Groen Ghoen ·

Soek gerus na die gemene deler in elke oorlog om meer insig te bekom. Oorlog is goeie besigheid en stimuleer die ekonomie. Orwell het dit wat nou gebeur reeds in sy boek “1984” beskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.