SA fiksheidsprogram help mense met gesonde leefstyl

Lelani Loots (Foto: Verskaf)

ʼn Suid-Afrikaanse televisieprogram, 5 Colour Fitness, wil jou wys hoe om gesonde eetgewoontes en ʼn aktiewe leefstyl te volg met behulp van talle plaaslike fiksheidskenners.

5 Colour Fitness het pas sy tweede seisoen afgeskop en beoog om Suid-Afrikaanse families te inspireer om gesonder te lewe, sê die uitvoerende hoof, Berne van Zyl.

“Die tweede seisoen het baie om te bied, met kosdemonstrasies, wenke om fiks en aktief te bly en talle pryse om te wen. Die oefeninge op 5 Colour Fitness wissel van volliggaam-oefeninge tot intense spierbou-oefeninge,” sê Van Zyl.

Die program bied daaglikse oefeninge vir kykers en stel ook ʼn plaaslike, opgeleide fiksheidsinstrukteur ten toon om kykers meer van ʼn gesonde en aktiewe leefstyl te leer. Een van hierdie instrukteurs is Lelani Loots van Pretoria.

Loots sê sy is versot op ʼn aktiewe lewe, en daarom was dit vir haar heerlik om deel van die program te wees.

“Oefeninge verhoog my energie en laat die liggaam optimaal funksioneer. Dit kan die ingewandspiere help om kos te verteer en korrek deur die spysverteringstelsel te beweeg. Dit keer dat jy ekstra gewig aansit en help om jou ideale gewig te handhaaf,” sê sy.

Loots vertel dat 5 Colour Fitness so werk dat die instrukteurs in vyf kleure ingedeel is en dat hulle dan vir vyf weke elke dag ʼn verskeidenheid oefeninge vir die kyker aanbied.

“Ek is in die rooispan wat elke Maandag om 07:00 ʼn HIIT (hoë-intensiteit-intervaloefening) aanbied om jou week sommer goed te begin. Ek sal in die derde en vyfde week ook ʼn lekker bolyfoefening aanbied,” sê sy.

Bekendes soos Rachel Kolisi, Liezel van der Westhuizen en Heinz Winckler kom loer ook in om hul vernuf te toets.

Loots sê hierdie program is die perfekte manier vir beginners wat ʼn gesonder en meer aktiewe leefstyl wil begin.

“Daar is elke dag ʼn ander soort oefening op die program en dit is geskik vir almal – van mense wat sterker spiere wil bou, tot mense wat meer wil strek. Daar is iets vir almal. Jy oefen ook in die gemak van jou eie huis, so jy hoef nie ekstra geld uit te gee of na ʼn gimnasium te gaan nie.”

Loots sê dit is belangrik om vroeg reeds te fokus op ʼn gesonde leefstyl en sodoende te voorkom dat swak gewoontes later in jou lewe tot gesondheidsprobleme lei.

“Ons almal moet herbesin oor wat ons elke dag doen – ons moet oplet na wat ons eet, hoeveel ons slaap, of ons genoeg oefening kry en hoe ons stres hanteer.”

5 Colour Fitness is daagliks op SuperSport 9 om 07:00 beskikbaar. Herhalings kan ook op Catchup of Showmax gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.