Safta-nominasies: Afrikaanse oes lyk goed

Ilse-Lee Van Niekerk vertolk die rol van Jessica in ‘Troukoors’. (Foto: Verskaf)

Die benoemings vir die 16de jaarlikse Saftas (Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekennings) is vandeesweek bekendgemaak en die Afrikaanse inhoudskeppers het nie teleurgestel nie.

Talle trefferreekse en -rolprente het benoemings ontvang, om nie te praat van uitmuntende akteurs wat óók benoem is nie.

Binnelanders, 7de Laan, Getroud met rugby, Arendsvlei, Troukoors en Nêrens, Noord-Kaap het onder meer benoemings in die televisie-afdeling ontvang.

Die gewilde dokumentêr, Devilsdorp, is ook benoem in vyf verskillende dokumentêr-kategorieë.

Elders: Namibië en Die Broer Toer is vir die beste leefstylprogram benoem, terwyl Die 11de kykNET Fiëstas en Musiek Roulette vir die beste vermaakprogram benoem is.

G.I.L. het ook geskitter in die televisie-afdeling, met benoemings vir grimering en haarstilering, uitrustings, klank, kuns en regie. Frank Opperman en Bennie Fourie het ook onderskeidelik vir beste ondersteunende akteur en beste akteur benoemings ontvang. G.I.L. is ook vir beste TV-komedie benoem.

Die Showmax-gruwelreeks, Dam, waarin Lea Vivier die hoofrol vertolk, spog ook met ’n hele paar nominasies. Vivier is onder meer vir beste aktrise in ’n TV-drama benoem en die reeks stap weg met ’n benoeming in die beste TV-dramakategorie.

Ilse-Lee van Niekerk is benoem vir die beste aktrise in ’n TV-komedie vir haar rol in Troukoors, en Tinarie van Wyk-Loots is benoem vir die beste aktrise in ’n TV-drama vir haar rol in 4 Mure.

Binnelanders-aanhangers kan beïndruk wees met Odelle de Wet, Clint Brink en Cindy Swanepoel wat ook benoemings ontvang het.

  • Vir die volle lys benoemings besoek dié webwerf.
  • Die Saftas sal vanjaar op 2 en 3 September by Sun City plaasvind en sal op Mzansi Magic, DStv-kanaal 161, uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.