Sanger se talentkompetisie kom TV toe

Emo Adams

Emo Adams het onlangs ʼn kompetisie, Jou talent, op sy digitale platforms begin om nuwe talent – enige talent – in Suid-Afrika te soek.

Binne dae is hy met video’s oorval wat via WhatsApp aan hom gestuur is. Hy het tot dusver al amper 4 000 inskrywings ontvang.

kykNET is baie opgewonde om bekend te maak dat hierdie projek in samewerking met Emo Adams en Blixem Produksies verder ontwikkel gaan word as  ʼn talentkompetisie vir televisie.

“Ons is geweldig opgewonde om Emo se talentinisiatief in ʼn televisiereeks vir kykNET te omskep, juis omdat daar reeds soveel hart en geesdrif betrokke is,” het Marguerite Albrecht, die toesigvervaardiger vir kykNET, gesê.

“Emo is nie net entoesiasties om nuwe talent te ontgin nie, hy het ook die vermoë om mense op hul gemak en welkom te laat voel, en dit is waarom so baie ongeslypte talent reeds ingeskryf het.”

Albrecht het gesê dié reeks gaan ʼn vars toevoeging tot die talentkompetisie-genre wees en gaan baie van die geykte elemente van hierdie genre laat vaar of vernuwe. “Ek glo kykers kan hulle begin regmaak vir ʼn geweldige bederf in 2019.”

Maak my famous sal vanaf April 2019 op die Afrikaanse kykNET-kanale op DStv uitsaai. Die sluitingsdatum vir inskrywings skuif ook tot 31 Desember en verfilming sal in die nuwe jaar geskied.

“Sjoe, dis eintlik alles baie overwhelming,” het Emo telefonies gesê:  “Ek wou eintlik net vir mense die geleentheid gee om hulle talente vir die wêreld te wys.

“Maak nie saak waar hulle vandaan is nie – die stad of die platteland. Die feit dat kykNET my wil join op die journey, beteken dat hulle ook die nodigheid vir so ʼn inisiatief sien. Vir iemand met ʼn gladdebek is ek actually speechless.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda ·

Ek is bly !!! Emo dankie vir jou opregte menslikheid ! Opregte waardering van my af !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.