Sepiester vier 10 jaar by ‘Binnelanders’

Je-ani Swiegelaar vier 10 jaar by ‘Binnelanders’. (Foto: verskaf)

Vir die afgelope tien jaar trek Je-ani Swiegelaar daagliks die netjiese verpleegsterpakkie van die ernstige, dog saggeaarde Naomi Koster aan.

Haar karakter in die sepie het in dié tyd ʼn deel van haar lewe geword en iemand moes haar aan die begin van die jaar herinner dat sy hierdie jaar ’n dekade op die kassie vier.

“Dit was nie aan die begin van my tyd by Binnelanders noodwendig die doel om so lank deel daarvan te wees nie,” het Swiegelaar aan Maroela Media vertel.

“Dis ’n hengse prestasie waarop ek werklik trots is.”

Swiegelaar het ’n bekende en gewilde gesig op die kassie geword, een waarna kykers uitsien wanneer hulle saans voor die televisie inskuif. Sy het deur die jare heen talle loopbaanskuiwe, liefdesteleurstellings en -oorwinnings as Naomi ervaar.

Sy beskryf haar verhouding met die karakter Naomi as bittersoet.

“Partykeer het sy my lekker geïrriteer. Siestog, sy kan dinge so ernstig opneem. Soms kry ek haar regtig jammer, want as ek in ’n leeftyd moet deurgaan wat Naomi in ’n seisoen deurgaan, weet ek nie of ek ’n gelukkige mens sou gewees het nie.”

Ná 10 jaar is dit steeds vir Swiegelaar belangrik om die storie opreg en op ’n eerlike wyse aan die kykers te vertel. Sy het deur die jare ook geleer dat dit nie net die kykers is wat die storielyne moet glo nie, maar sy ook.

“As daar soms goed in die storielyne kom wat vir my nie sin maak nie, sal ek dit bevraagteken. Ek sal vra of dit omgeswaai kan word om meer sin vir die karakter te maak.

“Ek het geleer om die storielyn en my karakter te vertrou, maar ek het ook geleer om my eie vaardighede as aktrise te vertrou. As jy dit nie doen nie, kan jy nie verwag dat vervaardigers by jou gaan inkoop as aktrise nie, en dat kykers jou storielyn sal glo nie.”

Swiegelaar bieg sy was vir die eerste 18 maande maar bekommerd oor haar plek in dié sepie, aangesien sy eers net vir kontrakte van drie maande aangestel is. ’n Permanente kontrak is eers later vir haar aangebied.

Lindie Stander saam met Je-Ani Swiegelaar, Ilne Nienaber en Lindsey Abrahams in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

“Ek kan nie veel daarvan onthou nie, juis omdat ek so bekommerd was,” het die aktrise skertsend vertel.

Die stel van Binnelanders is nie net waar Swiegelaar werk nie, dit is waar sy van haar baie goeie vriende ontmoet het.

“As jy 12 ure ’n dag in mekaar se geselskap is, gaan vriendskappe vorm. Daar kom natuurlik ook konflik; ons is net mense en akteurs is maar sensitiewe en kreatiewe goed. Jy raak die kwaadste vir die mense wat die naaste aan jou is.”

Die groep Binnelanders-akteurs woon talle geleenthede en feeste saam by en kuier dikwels oor en weer.

Haar vriendskap met haar TV-man, Germandt Geldenhuys, is natuurlik die verhouding wat haar heel naaste aan die hart lê. Dié twee reis ook Suid-Afrika en Namibië plat met hul teaterproduksie Keelvol.

Ná 10 jaar is sy dankbaar vir elke kyker wat daagliks voor die skerm inskuif om die sepie te kyk.

“Ons vergeet soms dat die kykers dié is wat ons op die lug hou. Baie dankie dat almal die kunste en akteurs ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Binnelanders het haar karakter baie swak gemaak, daai frons is nou al permanent, so ook die verveeligste storie lyn, dan is At weg, dan gebeur iets, dan moet die At of Deliah wees, dan baklei Analise en Conrad oor wie dit mag wees, pretty much dieselfde storie lyn van 2017 af.

Nommer 7 ·

Netso. Ek het jare gelede BL gekyk. Nou val my oog so nou en dan daarop, en ek sien dit gaan aan daar waar ek laas gekyk het. So jy sal niks mis as jy net een episode per maand kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.