Skokterugkeer van geliefde sepiekarakter

Evan Hengst, wat Dirk vertolk, is terug op die kassie. (Foto: verskaf)

Nadat aanhangers van die kykNET-sepie, Suidooster, in 2022 laat glo is dat ’n gunstelingkarakter in ’n skietvoorval dood is, het sy skokterugkeer na die sepie op Dinsdagaand kykers omtrent laat gons.

In dié episode het Dirk, wat deur Evan Hengst vertolk word, weer in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, opgedaag. Dirk was deel van ’n onwettige orgaanhandelnetwerk, waarvan sy ma, die gevreesde Esther Graaff (Marion Holm), een van die sleutelfigure was.

Dirk is tydens ’n polisieklopjag, waartydens sy ma vasgetrek is, geskiet. Daar is daarmee saam die indruk geskep dat die skietwond noodlottig was, maar intussen het hy die polisie gehelp om die orgaanhandelnetwerk oop te vlek.

“Dirk was nooit ’n wreedaard nie, maar sy narsistiese ma het hom gemanipuleer om na haar pype te dans,” vertel Evan.

“Nou het hy ’n tweede kans in die lewe gekry, maar hy wroeg baie om homself vir sy medepligtigheid te vergewe, en hy wil die mense wat hy leed aangedoen het vierkantig in die oë kyk om sy berou uit te spreek.”

Marion Holm en Evan Hengst. (Foto: verskaf)

Die skielike terugkeer is egter nie ’n vinnige “vergewe en vergeet” vir die gemeenskap van Ruiterbosch nie, meen Wilmer Müller, Suidooster se publisiteitsbestuurder.

“Soos die legkaart oor Dirk se vormingsjare in plek val, gaan kykers dalk simpatie vir Dirk ontwikkel, maar daar wag verrassings met nóg spoke uit Ruiterbosch se donker verlede wat hul opwagting maak,” onthul Wilmer.

“Dis nooit windstil in Suidooster nie, maar daar is ’n orkaan van drama in die komende maande op pad, en dinge gaan plofbaar raak.”

  • Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & kie (kanaal 145) gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.