Skoot hoog deur in ‘Op my eish!’

Brendan en Katja. (Foto: verskaf)

Kupido se liefdespyltjies het omtrent rondgewaai in die jongste aflewering van kykNET se immergewilde maatsoekreeks Op my eish!.

Die tyd vir Brendan Peyper om te besluit watter vrou sy hart die vinnigste laat klop raak by die dag minder, en wie hy volgende huis toe gaan stuur ʼn raaisel wat by dag moeiliker word om op te los.

Katja, Janae, Rachelle en Jonelle is in dié episode elkeen met ʼn behoorlike alleenafspraak saam met Brendan bederf. Van vliegtuigritte, spa-behandelings en ʼn romantiese oomblik voor ʼn kaggelvuurtjie, het elke vrou haar stukkie romanse gekry.

Liefde is in die lug

Die episode het afgeskop met Katja se afspraak; ʼn vliegtuigrit en ʼn sushi-piekniek onder die bome. Dié afspraak het Brendan en Katja meer sekerheid gegee oor hul verhouding en hoe hulle oor mekaar voel, met Katja wat kykers selfs bederf met haar weergawe van Paul Young se “Love is in the air”.

“Ek en Katja kan pret saam hê,” het Brendan in sy dagboeksessie verklap. “Maar ons kan ook ernstig raak en lekker gesels. Dit is altyd maklik, daar is niks drama nie.”

Nadat hulle klaar geëet het, is die twee daar weg om die woud verder te gaan verken. Tussendeur is daar natuurlik ook ʼn paar soene uitgedeel, en met elke soen het die twee net meer en meer verlief gelyk.

“Hierdie afspraak het my verbaas. Ek het meer gesien van haar as wat ek gedink ek het sou,” het Brendan na afloop van hul alleentyd gesê. Katja het erken dat sy werklik vertroue het in die band wat hulle die afgelope paar weke gesmee het.

“Ek dink ná vandag is ons konneksie sterker as ooit. Ek het myself weerloos gemaak en my hart vir hom gegee.”

Terwyl Katja en Brendan hul tyd terdeë geniet het, het Janae, Rachelle en Jonelle saam gaan stap om hul koppe bietjie skoon te kry.

Dit was veral moeilik vir Janae om te weet dat Brendan alleentyd saam met Katja het en dat hulle heel moontlik tydens die afspraak gaan soen.

“Dit is nie baie lekker om te weet dat Katja vandag ʼn afspraak het nie. Ek hou natuurlik baie van Brendan. Mens weet nie wat op die afspraak gaan gebeur nie.”

Sy moes egter wag vir haar beurt, en in dié geval, was dit heel laaste.

Versigtig met daai handdoekie!

Die volgende vrou wat Brendan bederf het, is Rachelle. Dié is na ʼn boetiekhotel-en-spa geneem vir ʼn versnapering of twee en ʼn spa-behandeling.

Rachelle het egter gewonder waarom sy nou juis die een was wat vir die behandeling gekies is en gevoel dat dit eintlik iets is wat ʼn getroude paartjie moet deel.

Sy het later geskerts dat sy maar vir die terapeut gevra het om die handdoek versigtig te hanteer om nie te veel te laat wys nie.

(Foto: verskaf)

Ná die behandeling het sy en Brendan ʼn kaasbord geniet voordat hulle ʼn hoofgereg in die hotel se restaurant geëet het. Alhoewel hulle nie ʼn soen gedeel het nie, het Brendan dit in sy dagboeksessie benadruk dat hy niks gaan dwing nie en dat daar belangriker dinge is as om te soen.

Hulle het egter weer oor hul gunstelingherinneringe saam gesels en weer die familie-onderwerp verken.

“Dit voel asof ek en Brendan mekaar al jare ken,” het Rachelle gesê.

Soek jy ʼn koeksister?

Ná dié romantiese afspraak was dit tyd vir Brendan om Jonelle uiteindelik ook op ʼn alleenafspraak te neem, en hoewel Jonelle vooraf gevoel het dat sy dalk huis toe mag gaan, was sy vasberade om die beste van die afspraak te maak.

Jonelle, wat vooraf skaam en ietwat teruggetrokke was, het haar hart stuk vir stuk vir Brendan oopgemaak. Die aanvanklike beplanning was dat hulle bietjie pret op die dam sou hê, maar weens ʼn reënbui moes hulle ʼn ander plan beraam.

Brendan en Jonelle het hul eerste soen gedeel voordat hy haar huis toe gestuur het. (Foto: verskaf)

Tussendeur die geflikflooi, het hulle ʼn bord nachos saam gebou wat hulle later sou geniet. Daar was natuurlik ook ʼn porsie koeksisters, iets wat Jonelle se aandag telkemale deur die reeks getrek het.

Dit was egter nie die koeksisters wat in dié geval die aandag geniet het nie, maar ʼn nuutgevonde vonk tussen die twee.

“Ek moet iemand vandag huis toe stuur, maar ná vandag gaan dit nie Jonelle wees nie.”

Nadat hulle klaar die nacho-bord gebou het, het die wolke bietjie begin ooptrek en kon hulle tog die watersport aanpak, hoewel Brendan gebibber het van die koue. Dit was egter nie die enigste opwinding van die dag nie.

Teruggekom in die huisie, het Brendan nie op hom laat wag om sy vierde soen van die reeks uit te deel nie.

“Liefde by die dam, letterlik,” het Jonelle in haar dagboeksessie geskerts. “En toe bietjie skoenlappers.”

‘Jy is mooier as die uitsig’

Uiteindelik het die tyd vir Janae se alleenafspraak aangebreek, en dit het nie vir haar of Brendan teleurgestel nie. Trouens, Brendan het vir haar gesê dat sy byna mooier as die uitsig lyk.

Dié tweetjies het eers gesmul aan fondue voordat hulle snoesig voor die kaggelvuur gaan sit het. Brendan was veral voorbereid vir dié afspraak en het seker gemaak dat hy ʼn paar vrae vra wat op sy hart was.

Een van dié was om seker te maak dat Janae reg sou wees vir ʼn lewe in die kollig en te midde van aanhangers se aandag, sou hy haar uiteindelik kies.

“Ek verwag nie van jou om kwaai te wees met iemand wat sou flikkers gooi nie,” het sy Brendan se vraag beantwoord.

(Foto: verskaf)

“Dit gaan vir my oor vertroue. As ek die vertroue in jou het, en ek weet dat jy hier is vir die regte redes, dan sal dit nie ʼn probleem wees nie. Ek sal nie jaloers wees nie.”

Hy wou ook uitvind oor haar planne om in die nabye toekoms in die buiteland op ʼn seiljag te gaan werk. Sy het hom egter verseker dat indien hy haar sou kies, dié planne nie uitgevoer sou word nie.

“Voor hierdie het ek natuurlik toekomsplanne gehad, ek het nie geweet dat ek sou inskryf vir Op my eish! nie. Dit was nie vaste planne nie,” het sy gesê.

“Dit hang af hoe dinge uitwerk tussen my en jou. As dit uitwerk, los ek die seiljagte en spring in jou arms in,” het sy geskerts.

Iemand gaan steeds huis toe

Al het Brendan sy alleentyd saam met Jonelle geniet, het hy haar uiteindelik gevra om huis toe te gaan.

“Ek wens daar was meer tyd, maar dis nie my tyd nie, dit is God se tyd,” het sy gesê nadat hy die nuus aan haar gebreek het dat hul tyd saam verby is.

Brendan het egter vir haar gesê dat indien sy vroeër in die reeks al haar hart oopgemaak het soos gedurende hul afspraak, hy dit sterk sou oorweeg het om haar langer te laat bly. Dié woorde het veral by haar vasgesteek.

“Nou het ek ʼn topdrie. Daar is sterk konneksies met twee meisies. Nou is dit ʼn saak van gebed,” het Brendan gesê oor die kort pad wat vir hom, Janae, Katja en Rachelle voorlê.

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.