So vier ‘Welvaartskeppers’ se Botha-broers hul Kersfees

PG en Geo Botha is gesertifiseerde finansiële beplanners en aanbieders “Welvaartskeppers”. (Foto verskaf)

Die twee broers, Geo en PJ Botha, het bekendheid vir hul aanbieding van die program Welvaartskeppers op kykNET verwerf. Albei broers is ook gesertifiseerde finansiële beplanners en direkteure by Bovest Wealth Management, asook skrywers en aanbieders van ʼn gewilde podsending getiteld The F Word – Finance Podcast.

In 2020 het hulle, saam met hul pa Riaan Botha as hoofskrywer, ʼn boek getiteld Welvaartskeppers uitgereik.  Ná die sukses van die boek het hulle verplig gevoel om dit wat hulle geleer het met ’n groter gehoor te deel en ’n idee vir ’n reeks aan kykNET voorgelê. Dit het gelei tot die ontstaan van Welvaartskeppers, ’n program wat daarop gemik is om kykers in staat te stel om waarde te vind en rykdom te skep. Die Bothas stel in Julie 2023 nog ʼn boek, wat op die vier fases van die welvaartsiklus in die lewe sal fokus, bekend.

Maroela Media het met Geo en PJ gesels om te hoor hoe hulle Kersfees vier en wat 2023 vir hulle inhou:

Wat beteken die feestyd vir julle en hoe vier julle Kersfees?

Geo: Vir ons gaan dit daaroor om tyd saam met familie deur te bring en op dit waaroor dit regtig gaan, te fokus: Die geboorte van Jesus. Vandat ek kan onthou het ons Kersfees saam met familie gevier en ons wissel dit nou af, een jaar by my familie en die volgende jaar kuier ons saam met my vrou s’n.

PJ: Kersfees is altyd die tyd waar ons as familie bymekaar kom. Hierdie jaar kom kuier my suster van die VSA, Geo kom van die Kaap en die res van Gauteng om saam in KwaZulu-Natal vakansie te hou.

Wat is hierdie jaar in jul gesin se Kerskouse?

Geo: Ons gesin is nie groot op Kersgeskenke nie en dit gaan vir ons oor iets kleins maar persoonlik. Ek hou daarvan om iets prakties te gee wat mens nodig het en gaan gebruik, terwyl dit vir my vrou oor bederf gaan.

PJ: Ek is nie so groot op geskenke nie, so dit is meer my vrou se afdeling.

Wat maak julle gewoonlik vir Kersete en wie sluit aan by die feesvieringe?

Geo: Hierdie Kersfees is die eerste keer waar al ons vier kinders, hul gades en ook my ouers bymekaar gaan wees. Dit is natuurlik ook die eerste een vir ons seuntjie en dus sien ons sommer baie daarna uit. Elke gesin is verantwoordelik vir ʼn dis, en in my ouma se tradisie sal dit skaapboud, varkvleis, aartappels, groente en slaaie insluit.

PJ: Ons familie hou op Oukersaand gewoonlik ʼn braai. Op Kersdag gaan ons kerk toe en geniet kookkos daarna.

Het julle enige spesifieke Kerstradisies wat altyd gevolg moet word?

Geo: Ons deel geskenke uit op die aand van die 24ste. Die groot Kersete volg dan op Kersmiddag. Hier lees ons vooraf die Bybel en elke gesin is deel van die kosmaak, en die opruim.

PJ: Ons het altyd ʼn Kerskonsert gehou. Dit het bietjie vergete geraak toe ons ouer word, maar ek voel die nuwe generasie kan die tradisie maar weer hervat.

Waar woon julle tans en waar sal julle eendag wil aftree?

Geo: Ons woon tans in Stellenbosch. Ek het twee jaar gelede van Pretoria hierheen verhuis. Hoewel die dorp vir my aan die begin baie klein was, is ek nou mal daaroor om hier te bly. Die berge is vir my ongelooflik mooi en daar is iets misterieus daaraan, en dan is die see en die wynlande net om die draai. Ek glo ons sal nie te ver van hier wil aftree nie.

PJ: Ons woon tans in Pretoria en is nog onseker oor waar presies ons eendag sal wil aftree, maar die Wes-Kaap lyk altyd na ʼn aantreklike opsie.

(Grafika verskaf)

Wat maak jou gelukkig en wat maak jou kwaad?

Geo: Ek hou niks van negatiwiteit nie, dit bring ʼn mens net mooi nêrens nie. As jy ʼn probleem sien, moet jy minstens twee of meer oplossings saambring. Ek hou ook nie van mense wat ʼn kortpad in die lewe probeer vat nie – mens sien dit in finansies. Min mense is bereid om hard te werk en geduldig te wees, terwyl die meeste mense vinnig wil ryk word.

Ervaringe maak my gelukkig, nie materiële besittings nie. Goeie kos met ʼn pragtige uitsig en geselskap is ʼn luuksheid wat ek geniet. Dit maak my ook gelukkig as mense saamstaan om die wêreld ʼn beter plek te maak; ons as mense kan soveel vermag as ons daarop fokus en hard werk.

PJ: Ek is op my gelukkigste as ek tyd saam met familie en vriende kan deurbring. Onregverdigheid en mense wat ander boelie, maak my kwaad.

Wat hou 2023 vir die Botha-broers in?

PG en Geo Botha. (Foto verskaf)

Geo: Ons sien uit na 2023, daar is talle nuwe uitdagings wat ons gaan aanpak; dit is al hoe jy kan groei. Ons is tans besig om ons eerste boek oor die welvaartsiklus en verskillende fases van ʼn mens se persoonlike finansies klaar te skryf. Ons beplan ook aan ʼn tweede televisiereeks en gaan ons podsendings hervat. In my persoonlike hoedanigheid wil ek ook meer fokus op kort wenke vir mense om hulle persoonlike finansies beter te bestuur.

PJ: Ons is altyd besig om ons kliëntediens op te skerp en op soek na manier om vir kliënte meer waarde te gee. In 2023 is daar planne om nog meer terug te gee en ook om nuwe maniere te vind om ons kennis aan die publiek oor te dra.

Enige raad aan die lesers oor hoe om in die feestyd versigtig met hulle geld om te gaan?

Geo: Beplan! Die meeste maatskappye betaal hul personeel vroeër in Desember en dit kan ʼn mens aanmoedig om meer uit te gee. Onthou jy gaan eers teen die einde van Januarie weer ʼn inkomste kry. Moet dus nie onnodig koop nie want gedurende die feestyd is alles boonop nog duurder. Maak dus seker dat wanneer jy iets koop, jy dit werklik nodig het. Anders, wag eerder tot Februarie wanneer daar uitverkopings sal wees. Weet wat vir jou belangrik is en waarop jy jou geld wil spandeer. Moet beslis nie iets koop om anders mense, of jou volgelinge op sosiale media, te beïndruk nie want niemand gee regtig soveel om oor jou nuwe Louis Vitton-handsak of Moët-sjampanje as wat jy sou hoop nie.

PJ: Dit is die tyd wat mense hulself nie wil bekommer oor finansies nie en die feestyd wil geniet. Stel dus voor die tyd vir jou ʼn paar reëls op om te sorg dat jy jou nie onder onnodige druk in die nuwe jaar sit nie. Sit ʼn paar rand opsy in ʼn spaarfonds of -rekening vir lekker goed wat jy in die vakansie wil doen, maar as daardie geld opgebruik is, dan weet jy dit is nou genoeg en gebruik nie jou ander geld daarvoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.