Stel jou algemene kennis op die proef met vasvraprogram

Susan Booyens het met R500 000 by ‘Wie word ‘n miljoenêr?’ weggestap. (Foto: Verskaf)

“Waarvoor wag jy? Gryp die kans! Steek jou bangheid in jou sak en gaan daarvoor, jy’t regtig niks om te verloor nie en jy weet beslis meer as wat jy dink.”

Dit is die joernalis Susan Booyens, wat verlede jaar ʼn halfmiljoen rand losgeslaan het op die kykNET-vasvraprogram Wie word ʼn miljoenêr?, se raad aan voornemende deelnemers van die program.

Wie word ʼn miljoenêr? is op soek na deelnemers en soos met die vorige reekse is daar weer ʼn allemintige R1 miljoen op die spel.

Diegene wat ʼn kans wil waag om op die program te verskyn het tot middel Maart tyd om deel te word van die program. Rian van Heerden is die aanbieder van die program.

“Dis ’n groot avontuur en as jy nie die antwoord ken nie, haal diep asem en kyk of jy dit nie kan uitwerk nie, vertrou jou instink en gebruik Rian as klankbord. Dis beslis een van daai gevalle van wie nie waag nie, wen nie – en énige prysgeld is mos ʼn lekker bonus,” sê Susan, wat die R1 miljoen-kerf rakelings gemis het.

Rian van Heerden, aanbieder van ‘Wie word ‘n miljoenêr?’ (Foto: Verskaf)

Sedert Wie word ’n miljoenêr? vir die eerste keer in 2021 op kykNET begin het, is daar in totaal R5,5 miljoen se prysgeld aan 120 wenners uitbetaal. Tog het niemand tot dusver die miljoenrandvraag beantwoord nie …

Die eerste groot wenner wat Wie word ’n miljoenêr? opgelewer het, was in 2022 toe die sakejoernalis en skrywer Theunis Strydom R500 000 in sy sak gesteek het. Susan het ʼn jaar later ook met ʼn halfmiljoen rand huis toe gegaan.

“En dis heerlik om te sien hoe die ratte van ʼn deelnemer se brein so voor jou oë inklik – en indien nie, lag ons almal saam vir die dapper probeerslae.

“Boonop leer mens heeltyd snaakse feite en bisarre trivia wat jy om die braaivleisvuur met smaak kan oorvertel, en die beste kenners en swemmers sit hoeka altyd aan wal.

“Almal wat kyk, wil hê jy moet goed doen, en bewonder jou durf,” sê Susan.

Hoe werk dit?

  • Mense wat wil inskryf, moet teen 15 Maart 2024 ʼn aanlyn algemene kennis-toets op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv voltooi.
  • Diegene wat na die volgende ronde deurdring, sal ʼn telefoniese onderhoud met die vervaardigers kry en ʼn tweede algemene kennis-toets aflê.
  • Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees.
  • Deelnemers sal tydig ingelig word oor die tye waarop hulle beskikbaar moet wees vir opnames.
  • Volledige bepalings en voorwaardes is op kykNET se webtuiste beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.