Stormsterk winde waai binnekort deur ‘Suidooster’

Mymoena en Sammy. (Foto: verskaf)

Net soos die Kaapse Dokter in die somermaande al hoe feller in die Kaap woed, word daar ook stormsterk-drama vir die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, voorspel.

Dit is ʼn nuwe jaar, met nuwe kinkels vir die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel.

Naelbyt-oomblikke gaan kykers nie net boei nie, maar tot in hul diepste wese skok wanneer ʼn tragedie Ruiterbosch in die komende weke tref.

Nes kykers verlede jaar onkant gevang is deur die skielike dood van AB (Cedwyn Joel), die geliefde apteker en Samsodien-patriarg, is daar warrelwinde van wendings op pad wat aanhangers behoorlik gaan verras.

Daar is veral een storielyn wat kykers gaan ruk, sê Wilmer Müller, Suidooster se publisiteitsbestuurder.

“Die Samsodien en Jacobs-gesinne gaan midde hierdie drama vasgevang wees, en dit gaan lewens onherroeplik verander,” verklap hy.

Volgens hom is die ontwikkeling van Nazeem (Irvine van der Merwe) en Laylla (Kay Smith) se verhouding veral iets om dop te hou, want dit begin lyk asof Ruiterbosch se booswig dalk ʼn nuwe blaadjie kan omslaan.

“Maar ʼn mens moet onthou, ʼn jakkals verander van haar, maar nie sommer oornag van snaar nie …” sê Wilmer.

“Dit is ook regtig ʼn kwessie van ware liefde tussen Laylla en Nazeem, en hy probeer hard om ʼn meer eerbare lewe te leef.

Nazeem en Laylla. (Foto: verskaf)

“Tog is dit makliker gesê as gedaan, want die jaloerse Zoë [Lauren Joseph] met wie hy ʼn affair gehad het, ontdek iets oor een van sy vergete skelmstreke. En die vet is in die vuur …”

Die liefde gaan ook binnekort weer in Mymoena (Jill Levenberg) se hart begin blom.

“Ná haar man AB se dood het die wêreld maar donker vir Mymoena gelyk, en die tyd is nou ryp vir haar om aan te beweeg,” sê Wilmer.

“Sy ontwikkel ʼn pragtige vriendskap met ʼn nuwe karakter, Sammy [Royston Stoffels], maar dit blyk gou dat dit dalk bedoel is om meer te wees. “Ongelukkig is Mymoena se kinders skepties oor dié verwikkeling en dit kan weer tot onmin in die Samsodien-familie lei.”

ʼn Derde storielyn wat in die komende weke gaan ontvou, is dat Ruiterbosch se pastoor, Siya (Gantane Kusch) en sy vrou Danni (Vashti Prins) ʼn besluit neem om hul gesin uit te brei. Die Thulis is reeds ouers vir Brendan (Caleb Arnolds), wat in hul pleegsorg is, maar nou wil hulle ook ʼn baba van hul eie hê.

“Hul verhouding gaan in die proses getoets word, want hulle gaan talle uitdagings en brutale eerlikheid in die gesig moet staar.”

  • Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & kie uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.