‘Suidooster’-akteur se eenmanstuk ‘lag met ʼn traan’

Dean Smith op die stel van “Suidooster”. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Alhoewel Dean Smith vandag ʼn geliefde sepiester is, beskou hy elke geleentheid wat oor sy pad kom, hetsy groot of klein, as ʼn hoogtepunt wat saam met familie en vriende gevier moet word.

Dié 29-jarige akteur het in 2017 by die stel van Suidooster, en ook by kykerharte, ingestap. Vandag, herken mense hom as dié sepie se Wade.

Dean is eersdaags weer op die planke, wat hy as sy eerste liefde beskou, in sy eenmanstuk, Hallo, is Bettie wat praat, te sien. Bettie is ʼn karakter wat haar ontstaan in die grimeerkamer van Suidooster gehad het, en met dié stuk, uit Dean se eie pen, staan hy Bettie se verhoogskoene behoorlik vol.

“Mense ken vir Bettie weens sosiale media, en ʼn mens sien altyd wat sy doen en wie sy is, maar nooit waarom sy doen wat sy doen nie,” het Dean aan Maroela Media verduidelik.

“Met hierdie verhoogstuk leer ons vir Bettie agter geslote deure ken, en ons vind uit wie sy is wanneer sy nie op sosiale media is nie.”

Hy onthou die dag waarop hy heel tong in die kies na ʼn pruik in die grimeerkamer gegryp het om hierdie grapperige karakter te skep. Dit is nou al ʼn hele paar jaar terug dat hy die grimeerkunstenaars met die manewales van Bettie begin vermaak het.

Dié karakter het haar plek op sosiale media gevind toe Dean een minuut lange video’s van haar begin maak het. Talle aanhangers van Suidooster het Dean slegs in sy sepiehoedanigheid geken, maar met Bettie kon hulle sy vlymskerp sin vir humor ook ervaar.

Dean Smith as Bettie. (Foto: verskaf)

Tog, glo Dean dat humor eintlik met diepte gepaard gaan en nie net oppervlakkige grappies is nie; ʼn beginsel wat in sy eenmanstuk ten toon gestel word.

“Mense ontmoet ʼn ander deel van haar. Sy is ʼn komiese karakter, en mense lag wel vir haar, maar daar is ook oomblikke wat die gehoor na hul sneesdoekies laat soek.”

“Dit is ʼn slice of life, mense in die gehoor kan vereenselwig met dit waardeur Bettie gaan.”

Dean erken dat dit moeilik is om komedie of drama as ʼn gunsteling uit te sonder, en dat hy uitdagende karakters, hetsy snaaks of dramaties, geniet.

Wanneer hy dink aan die byna sewe jaar wat hy van Suidooster deel is, weet hy dat hy nie net baie geleer het oor die tegniese aspekte van toneelspel nie, maar ook oor homself.

Voordat hy by Suidooster aangesluit het, het hy hoofsaaklik teaterwerk gedoen, en het geen ervaring gehad om voor meer as een kamera op te tree nie. In ʼn sepie, word daar ten alle tye verskeie kameras gebruik, die tonele word vinnig na mekaar geskiet en die akteurs moet daagliks gereed wees om ʼn hele paar verskillende tonele te skiet.

Die aard van sepiewerk het Dean geleer om nuwe bronne van inspirasie te vind.

“As jy dieselfde karakter vir so lank vertolk, kan mens maklik gek raak. Dit het my gedwing om maniere te vind om steeds kreatief geprikkel te bly. Dit het gelei tot die skep van nuwe uitdagings, goed om jou uit jou eie gemaksone te trek.”

Dit is een van die groot redes waarom Dean met Bettie vorendag gekom het.

Die sepie het hom ook geleer dat die stories wat vertel word, baie groter as individuele akteurs is. Hy weet ook dat daar ʼn reuse-verantwoordelikheid gepaard gaan met dieper storielyne wat sommige kykers se werklikhede weerspieël.

“Jy vertel nie net ʼn storie nie, jy verteenwoordig iemand daar buite se storie. Jy moet dit weet, jy het ʼn verantwoordelikheid teenoor jou kykers.”

Dean het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en in 2015 sy honneursgraad verwerf. Ná ʼn jaar se teaterwerk, het hy die rol in Suidooster losgeslaan.

Die teater is egter waar hy sy liefde vir drama ontdek het, en hy beskou dit vandag steeds as sy toneelspel-oogappel.

Hy was reeds in die ouderdom van 16 deel van ’n professionele teaterstuk, Vaselinetjie, en het ook toe reeds geweet dat ’n loopbaan in die vermaakbedryf vir hom gewink het.

(Foto: Dean Smith/Facebook)

“Ek was baie gelukkig in daardie sin. Ek het van vroeg af geweet waarheen my lewe en loopbaan op pad was.”

Hy onthou egter vandag dat hy in daardie stadium van sy lewe op soek was na ’n rolmodel wat ’n pad met toneelspel gestap het. In sy tuisdorp, Malmesbury, was daar egter nie so iemand nie.

“Ek het destyds nie werklik ’n verwysingsraamwerk gehad nie. My ouers was baie ondersteunend, maar ek moes maar my eie pad vind.”

Vandag, verbly hy homself daarin wanneer jongmense vanuit sy tuisdorp vir hom sê dat dit in sy voetspore is waarin hulle wil volg.

“ʼn Mens sou dink dat sommige goed oud raak, maar dit doen nie. Elke liewe geleentheid, groot en klein, word saam met my gesin gevier. Hulle is altyd die eerste mense wat weet wanneer ek iets nuut gaan aanpak, wanneer ek ʼn nuwe geleentheid kry.”

En hoewel hy die groter prentjie van sy loopbaan sien, glo hy daarin om dit stap vir stap te neem en die proses te vertrou. Sy grootste lewensles is dat ʼn mens nie ʼn 50-verdiepinggebou gaan uitklim as jy die gebou in geheel sien nie. Die skep van kleiner doelwitte om uiteindelik die groot doelwit te bereik, beskou hy as sy wenresep.

“As jy ʼn paar jaar gelede vir my sou sê dat ek ʼn verhoogstuk sou skryf, sou ek jou nie glo nie, en hier is ons vandag!”

  • Dean Smith se Hallo, is Bettie wat praat is 2, 3 en 4 Augustus by Die Boer-teater in Durbanville te sien. Koop jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Dean Smith, jy is voorwaar ‘n nederige mens en dít maak jou ‘n goeie akteur. Sterkte voorentoe vir jou loopbaan.

Ronél ·

Ai die beste word ook net in die Kaap aangebied……………ons in die Noordwes Provinsie is arm aan die teaterkultuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.