Suur druiwe tussen ‘Real Housewives’ se Amy en Anita ná eilandvakansie

Amy se opmerking het Anita onkant gevang. (Foto: Verskaf)

Die Real Housewives van die Wynlande se idilliese eilandvakansie in Mauritius het op ʼn ietwat suur noot afgesluit toe Amy Kleinhans-Curd en Anita Lloyd in Donderdagaand se episode onverwags koppe begin stamp het.

Amy en Anita, tesame met Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl, gee vir kykers weekliks ʼn blik op hul luukse en kleurvolle lewe in die Wes-Kaapse Wynland.

Hul eilandeskapades het egter begin skeefloop toe die huisvroue “never have I ever” – ʼn speletjie waarin mens geheime moet verklap – begin speel het.

“Jy moet uithaal en wys met hierdie speletjie, ons soek die stoute stories,” het Candice oor dié speletjie verduidelik.

Volgens Amy was haar bedoeling nie om Anita se gevoelens seer te maak nie. (Foto: Verskaf)

Toe daar gevra is of iemand al in die tronk beland het, het Michelle, ʼn voormalige traumadokter, verklap dat ʼn pasiënt haar vir aanranding aangekla het nadat sy hom ʼn hou met haar vuis gegee het.

“Dit was ʼn dronk pasiënt wat vatterig geraak het terwyl ek sy steke probeer insit het,” het sy verdedig.

Die gesprek het vinnig na Anita toe gedraai toe sy gesê het dat sy nie verstaan waarom mense bang is vir haar nie. Veral Amy het vertel dat sy beslis bang is vir Anita omdat sy “ʼn baie sterk vrou is”.

“Hier skielik van duskant kry ek dit. Nie van Karen nie, maar van Amy. My maatjie. Die vreesaanjaende ding hiervan is dat sy dit moontlik al vir ʼn hele tyd voel,” het ʼn verbaasde Anita gesê.

Hoewel Anita die gesprek eers daar gelaat het, het Michelle opgemerk dat Amy se opmerking haar tog ontstel het. “Amy is die laaste persoon van wie Anita so iets verwag het.”

Anita het nie by die ander huisvroue aangesluit toe hulle gaan snorkel het nie. (Foto: Verskaf)

Amy het ook verklap dat sy destyds in die tronk beland het nadat sy na bewering ʼn lipstiffie by ʼn apteek gesteel het. Sy het egter drie jaar terug deur ʼn kennis uitgevind dat iemand dit sonder haar wete in haar handsak gesteek het.

Die voormalige Mej. Suid-Afrika het vertel dat ʼn onbekende vrou aan een van haar kennisse erken het dat sy weens jaloesie die lipstiffie in Amy se handsak gesit het. Volgens Amy het sy die vrou vergewe en hoop sy om eendag self die vrou te ontmoet.

“Ek wil hê dat my nuwe maatjies alles van my moet weet en nie goed by ander mense uitvind nie,” het Amy oor haar besluit om haar geheim te deel, gesê.

Anita het die laaste dag in Mauritius haarself eenkant gehou en nie saam met die ander vroue gaan snorkel nie. Tydens hul laaste ete het sy egter erken dat Amy se woorde haar ontstel het.

Die huisvroue se laaste aand in Mauritius op ‘n suur noot afgesluit. (Foto: Verskaf)

“Dis vir my sleg as my pelle dit dink. Ek het nie gedink dat julle my so ervaar nie,” het ʼn byna bewoë Anita vir haar medehuisvroue gesê.

Amy het vir Anita om verskoning gevra, maar volgens Anita was sy nie daarvan oortuig dat Amy dit bedoel het nie. “Ek sien myself in jou, jy’s ʼn goeie spieël vir my. Ek het nie bedoel om jou seer te maak nie,” het die voormalige skoonheidskoningin probeer verduidelik.

“Sy sê sy het nie bedoel om my gevoelens seer te maak nie, maar wat het sy dan bedoel? Mens kan mos nie binne twaalf uur so vinnig jou tune verander nie,” het ʼn omgekrapte Anita teruggekap.

Die Real Housewives van die Wynlande wys Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is beskikbaar op DStv Catch Up.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christine ·

Wow….. wie hou hulle besig met sulke oppervlakkige vermaak? Dankie Vader ek het nie ‘n TV nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.