‘The Bachelor SA’: Wie gaan dit wees?

Jessica Ross (Foto: Verskaf)

Nadat 21 deelnemers met die The Bachelor SA-proses begin het, is slegs twee, Bridget Marshall en Marisia van Wyk, oor in die pylvak na Marc se hart.

In Donderdagaand se episode is Jessica Ross, wat van die begin af ’n voorloper op die werklikheidsprogram was, sonder ʼn roos en in trane huis toe nadat Marc haar onkant betrap het met sy besluit.

Marc het in die vorige episode gesê hy is bekommerd oor Jessica. Hy voel asof sy hom wil verander en manipuleer. Jessica het op haar beurt gesê Marc het sy bekommernis nooit met haar bespreek nie, en indien hy dit gedoen het, sou hulle dit kon uitwerk en oplos.

“Ek het nie ʼn man nodig om my gelukkig te maak of om my volmaak aan te vul nie. Ek sal nie skik vir iemand wat my nie verdien of waardeer nie,” het Jessica gesê.

“Ek is op soek na iemand wat saam met my wil groei en toegewy is aan ʼn gesonde, langtermynverhouding, iemand wat my maat sal wees en ʼn skouer is om op te steun.”

Jessica sê sy is al deur baie in haar lewe en weet hoe sterk sy is, daarom het sy iemand nodig wat haar kan ondersteun wanneer sy dit die nodigste het.

“Marc het bewys dat hy nie die man vir my is nie, en dit is oukei. Ek het ʼn man nodig wat nie van konflik af weghardloop nie, maar wat oor sy bekommernisse sal praat, eerder as om dit te ignoreer,” sê sy.

Jassica groet Marc tranerig (Foto: Verskaf)

Jessica sê sy sukkel om haar kwesbare kant vir iemand te wys, en sy hou nie daarvan om dit te erken as sy swak voel nie, maar sy het ʼn man nodig met genoeg deernis wanneer sy wél besluit om vir hom te wys dat sy hulp nodig het.

“Ek glo wel dat jy nie mense sonder ʼn rede ontmoet nie en ek het my les geleer uit hierdie ervaring. Ek is altyd sterker as wat ek dink. Altyd.”

Jessica het The Bachelor SA verlaat sonder ʼn uitgaanonderhoud op kamera, soos al die ander deelnemers. Sy wou ook nie verder met die media praat oor haar ervaring nie.

Volgende week, Donderdag 29 Mei om 19:00, sal kykers uitvind wie Marc kies aan die einde van die reeks. Jason Greer, aanbieder van die reeks, sal ook met al die ander vroue wat deelgeneem het oor hulle ervarings gesels.

Tot dan kan kykers net wonder of Marc vir Bridget of Marisia gaan kies. Almal sal natuurlik wag om te sien of die paartjie nog wel bymekaar is met die uitsending van die finale episode.

 

Bridget en Marc tydens hul laaste afspraak (Foto: Verskaf)

Bridget is 31 jaar oud en woon in Seepunt in Kaapstad, hoewel sy oorspronklik van Durban is. Sy het ook ʼn tyd lank in die Verenigde Koninkryk gewoon. Marc en Bridget se verhouding het stadig begin en aanvanklik het Marc net vir Bridget as ʼn vriendin beskou. Dit het wel in die afgelope paar weke opgevlam en die twee praat gereeld oor ernstiger onderwerpe soos trou en kinders.

Marisia en Marc tydens hul laaste afspraak (Foto: Verskaf)

Marisia is ʼn 24-jarige spraakterapeut van Klerksdorp. Sy het al ʼn paar keer op die program genoem dat sy planne het om aanstaande jaar verder te studeer aan die Universiteit Stellenbosch, en om sodoende ook nader aan Marc, wat in Kaapstad woon, te wees. Marc en Marisia het van die begin af ʼn sterk band, maar Marc wonder soms of sy te jonk is vir die soort verhouding wat hy soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.