Tiaan Slabbert gesels oor ‘Spoorloos: Die eiland’ se Phillip

Tiaan Slabbert as Phillip Naudé in Spoorloos: Die eiland. (Foto: kykNET)

Deur Ilza Roggeband

Tiaan Slabbert het sy groot TV-deurbraak gemaak toe hy die rol van Phillip Naudé in Spoorloos: Die eiland gekry het. Hy het ʼn paar van Ilza Roggeband se vrae beantwoord.

Waar lê jou wortels en wanneer het jy besluit om ʼn akteur te word?
Ek spot altyd en sê ek het in ʼn tronk grootgeword aangesien my pa vir korrektiewe dienste gewerk het. Ek het aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria gematrikuleer en dit is ook waar my liefde vir toneel begin het. My dramajuffrou, Martie Cloete, het vir my gesê as ek nie drama gaan swot nie, gaan ek ʼn groot fout maak. Dankie, juffrou!

Leché Joubert, Christo Davids en Tiaan Slabbert tydens die verfilming van ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: Verskaf)

Wat was die eerste produksie waarin jy gespeel het?
My heel eerste professionele produksie was die teaterstuk Le Tarineville, ʼn komiese musiekblyspel deur Johann Smith.

Spoorloos: Die eiland is jou eerste rol in ʼn TV-dramareeks. Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol gekry?
Ek het uitgefreak en my agent, Marius Meyer by Thespians, se ore van sy kop geskree.

Jou karakter, Phillip Naudé, is Stefan (Bobby van Jaarsveld) se beste vriend en vertroueling. Hoe het jy jou karakter geskep?
Die skrywers, Ilse van Hemert, Christo Davids en Francois Coetzee, was fantasties en die basis van my karakter was dus reeds geskep. Ek het wel ʼn karakterbybel opgestel en toe verder aan Phillip gebou met wat die teks my gegee en toegelaat het en so verder in sy skoene geklim. Christo was as regisseur ook ʼn gids van hoe hy Phillip gesien het en van daar af het ek die karakter verder ingekleur.

Leché Joubert en Tiaan Slabbert in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat het jy die meeste van die verfilming geniet?
Alles! Daar is nie een ding wat ek nié geniet het nie. Richardsbaai was wel ʼn gunsteling en het soos ʼn vakansie gevoel.

Wat doen jy in jou vrye tyd? Enige verskuilde talente?
Ek dink nie ek het vrye tyd nie. Ek kan ook nie stilsit nie en as vryskutakteur probeer ek elke dag die balle in die lug hou. Maar indien ek tyd het, chill ek en my ouma of geniet ek dit om saam met vriende te braai.

Verskuilde talente? Ek kan jodel, ek skryf graag en doen regie en ek is ʼn muppeteer by Takalani Sesame.

Watter rol sal jy nog graag wil speel?
My droomrol is om ʼn kannibaal te speel. Vreemd, ek weet. Iets soos Wrong Turn. Ek is ʼn groot aanhanger van rillers.

Bobby van Jaarsveld, Leché Joubert en Tiaan Slabbert tydens die verfilming van ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: Verskaf)

Enige Spoorloos-geheime wat jy met ons kan deel?
Nie al die karakters kan swem nie …

Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Ek het saam met my beste vriendin en vennoot Lee Visagie ʼn onderneming met die naam What Walrus? gekoop wat opvoedkundige teater by kleuterskole en laerskole doen. My eenvertoning Draf, Boela, draf maak in Oktober sy debuut by die Vrystaatkunstefees en dan is ek ook ʼn lektor by Performing Arts Life Institute (Pali).

Jy het al heelwat teaterwerk gedoen. Watter medium verkies jy: teater of TV?
Ek is meestal bekend vir my verhoogwerk en dit voel soos my huis, maar TV was my grootste droom. Ek kan nie kies nie. Droom gaan ek droom en in my “huis” sal ek altyd bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.