‘Tussen Ons’, ‘Griekwastad’: Tracey Lange deel haar reis

Tracey Lange is tuis agter die mikrofoon (Foto: Verskaf)

Tracey Lange is ʼn dinamiese vrou, radio-omroeper en aanbieder van verskeie televisieprogramme.

Sy bied weeksdae die oggendprogram tussen 09:00 en 12:00 op KFM 94.5 aan. Kykers sal haar ook herken as mede-aanbieder van kykNET se leefstylprogram Bravo! en Tussen Ons, ʼn geselsprogram wat Donderdae op kykNET & kie uitgesaai word.

Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Lange gesels oor die invloed wat sosiale afstandhandhawing op hul opnames van Tussen Ons het. Lange het meer oor die vervaardiging van Griekwastad (gebaseer op die boek Die Griekwastad-moorde) vertel en sy deel raad oor hoe om innerlike vreugde te kweek.

“In die vorige twee reekse van Tussen Ons het ons vroue om ʼn tafel gesit, maar nou sit ons net op stoele sodat die regte afstand tussen ons gehandhaaf word,” vertel sy. Lange vertel verder dat die program nou sonder ʼn gehoor opgeneem word en dat hulle streng volgens reëls en regulasies werk. Hoewel dit ʼn aanpassing is, is dit eintlik net ʼn “nuwe normaal” waaraan almal gewoond raak.

Kykers word nou op ʼn nuwe manier by die program betrek en Lange vertel dat die terugvoer van die publiek geweldig positief is.

“Mense kan weekliks vir ons videomateriaal stuur wat ons dan in die program gebruik. Dit is so lekker om die kykers op dié manier te laat deel voel van die program,” vertel Lange.

Sy het ook haar reis as medevervaardiger van die nuwe Afrikaanse fliek Griekwastad gedeel.

“Ek is geweldig opgewonde oor die fliek,” vertel Lange. “Die feit dat dit so goed deur kykers ontvang is, is fenomenaal.”

Griekwastad is op 5 Mei op DStv se BoxOffice-platform vrygestel. Dit is sedertdien deur meer as 50 000 intekenare uitgeneem.

Dit was Lange se eerste kennismaking met rolprentvervaardiging en sy meen dit sal beslis nie die laaste een wees nie.

“Ek is seker ek sal vir ander mense wat my vra ‘ja’ sê, maar ek sal beslis voorkeur aan Tim Theron en Cobus van den Bergh gee,” vertel sy laggend. Dit is danksy Theron en Van den Bergh, wat haar gevra het om medevervaardiger te wees, dat sy deel van die rolprent se produksiespan was.

(Foto: Verskaf)

Lange gesels ook oor haar innerlike vreugde en lewenslange doelgerigtheid. Selfs nou tydens afsondering en talle aanpassings wat in die televisiebedryf gemaak word, kies sy om positief te wees.

“Ek dink dit is omdat ek altyd dankbaar is,” vertel sy. “Ek staan elke dag op en ek kies om dankbaar te wees. Of dit nou vir die weer is of vir ander kleiner dinge in die lewe,” vertel sy.

Griekwastad is tot 2 Julie op DStv Box Office beskikbaar.

Het jy geweet?

Die boekweergawe van Griekwastad is pas deur Penguin Random House Suid-Afrika (PRHSA) uitgegee. Klik hier vir meer inligting oor die boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.