Veelsydige Melt oor ‘Fraksie’ se Henk

Melt Sieberhagen in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Deur Ilza Roggeband

Die akteur, komediant en skrywer Melt Sieberhagen is nie iemand wat wag vir dinge om te gebeur nie.

As daar nie werk in een rigting in die vermaakwêreld is nie, gaan soek – en kry – hy dit op ’n ander plek.

Hy vertolk tans die rol van Henk Greyling in die kykNET-reeks Fraksie en het ook deel gevorm van die skryfspan vir dié gewilde reeks se eerste seisoen. Die reeks is deur Louis Pretorius en Albert Snyman van Die Boekklub– en Fynskrif-faam geskep.

Melt vertel van sy ervaring om deel van die Fraksie-span te wees, watter Hollywood-akteur hy sou kies om hom te vertolk en verklap meer oor sy trouplanne.

Hoe is Henk se karakter geskep?

Met die drie hoofkarakters (Schalk, Tim en Jana) wat van die begin af die spil was waarom die storie draai, het ons maar karakters geskep wat in hulle sfere sou beweeg en ’n invloed op hulle en die storie sal hê.

Henk het soos die meeste van hulle amper uit nood ontstaan. Dis moeilik om die proses te verduidelik, maar soos ek genoem het: Met so ’n klomp behendige skrywers, kon ek soms ook net toekyk hoe ’n karakter wat as ʼn one-liner in ’n vorige episode opgeduik het, weer en weer sy verskyning maak en later ’n integrale deel van die intrige word.

Hoe het jy hom aangepak? En hoeveel van Melt is in Henk?

Tydens die skryfproses het ek dit nogal geniet om sommige van my swakste karaktereienskappe te oordryf en dan vir Henk te gee. Hy is ook ’n karakter wat deur almal saam uitgebrei en lyf gegee is (metafories – ek het nie geweet dat ek later die fisieke lyf sou moes verskaf nie), so daar is ook baie ander aspekte aan hom wat heerlik was om te gaan soek.

Toe dit by die vertolking kom, het ek probeer om so min moontlik van myself in Henk te sit, met die uitsondering van dit wat doelbewus deel gemaak is van die karakter toe ons hom geskryf het.

So, dit was nogal ’n interessante proses. Henk is maar net Henk. En soms kan hy nogal té Henk wees. Om Henk te laat Henk, eerder as hom te laat Melt, was seker die grootste uitdaging. (Om hierdie vraag te beantwoord, was amper die tweede grootste een.)

Hendrik Nieuwoudt en Melt Sieberhagen in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Hoe het jy by die reeks betrokke geraak? Hoe het julle skryfproses gewerk? Is dit soos in rolprente wat almal saam om ’n tafel sit of kry julle elkeen ’n episode om te skryf?

Ek was gelukkig genoeg om deel van die skryfspan te vorm saam met Stephen Simm en Rosalind Butler, twee baie goeie skrywers met jare lange ervaring.

My skryfwerk neig gewoonlik na die minder ernstige kant toe, so dit was ’n lekker uitdaging en uitstekende leerskool om onder Louis se leiding aan die storie, karakters en intrige te timmer.

Dit was aanvanklik die begin en die einde van my betrokkenheid, totdat ek heel aan die einde van die proses in Henk se rol beland het. Dit was glad nie beplan nie, so dit was ’n aangename verrassing.

’n Bietjie van albei, behalwe vir die “om ’n tafel”. Dit was ’n groot tuiswerk-oefening, maar ons Zoom-vergaderings het amper soos ’n gemoedelike kantoor begin voel, een waarheen jy uitgesien het om heen te gaan.

So het ons die episodes beplan en dan elkeen aan ’n episode gaan skryf, ’n tweede draft gedoen en Louis het dan as hoofskrywer alles bymekaargebring, verkort, versterk, aangepas en reggeruk. Dit was ongelooflik om te sien hoe ons gesprekke in episodes verander en dan ook om te sien hoe dit alles bymekaarkom.

Watter internasionale akteurs se werk het jy die grootste waardering voor? En as iemand eendag die rol van Melt Sieberhagen moet speel, wie moet dit wees?

Ek het seker maar ’n ding vir komediante wat ernstige rolle aanpak, want Robin Williams, Jim Carrey en Ricky Gervais se name duik dadelik by my op, maar dan is daar ook Javier Bardem, Christoph Waltz, Rachel Brosnahan en Engelse reuse soos Judy Dench, Ian McKellan.

As iemand my moet speel, sal ek graag net die kans wou hê om self die oudisie te hanteer. Ek dink ek kan dit nogal regkry. Anders seker maar Jonah Hill, of Meryl Streep. Daai vrou kan enigiets doen.

Hendrik Nieuwoudt, Brandon Daniels en Melt Sieberhagen in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Fraksie se sterk rolverdeling is indrukwekkend. Maak dit dinge makliker of meer uitdagend?

’n Bietjie van albei, sou ek sê. Dit is nogal intimiderend, maar ek dink dit bring die beste in ’n mens uit as jy teenoor sulke goeie akteurs speel en op Fraksie was hulle volop.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Dit was ’n besige jaar, maar dis nog nie klaar nie. Daar is nog ’n rolprent wat voorlê, ’n paar lekker komedievertonings en wie weet wat nog. In hierdie bedryf is niks ooit voorspelbaar nie.

Wat is jou droom vir 2023?

Ek en my verloofde, Maryke Nel, trou in Maart, en in hierdie stadium is dit nogal die hooffokus vir 2023. Vir die res van die jaar sou ek gelukkig wees as hierdie jaar se momentum behou kan word. Seker nie te veel gevra nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.