Verander hoe jy dink voordat jy verander hoe jy lyk

Leandie du Randt. (Foto: Facebook/Leandie du Randt)

Die aanbieder en aktrise Leandie du Randt is Sondagaand terug op die kassie met ’n splinternuwe seisoen van die gewigsverlies-program Slank.

Maroela Media het by haar en dr. Kobus Neethling, skrywer van die boek Jou gewig, jou keuse, ingeloer om oor gesonde gewigsverlies en ’n volhoubare verhouding met kos te gesels.

Talle Suid-Afrikaners se verhouding met kos en hul gewig is stram. Daar word lekker geëet en nóg lekkerder belowe om die volgende dag, week of maand eetgewoontes aan te pas.

Neethling meen egter dat die beginpunt van enige gewigsverlies-reistog in die gedagtegang daar rondom lê.

“Jy moet die essensie van die probleem verstaan. Jy kan nie jou liggaam verander sonder om jou denkwyse daaroor te verander nie.”

Hy benadruk dat jy jou roetine moet verander om gesonde gewigsverlies te bewerkstellig. Die verduidelikingsvoorbeeld wat Neethling hiermee saam gegee het, is dié een van padwoede.

“Jy raak mos kwaad wanneer iemand net voor jou inry. Vir ’n paar dae moet jy regtig daarop fokus om jou emosies in die kar te beheer. Ná ’n ruk gaan jy egter besef dat dit werklik nie nodig is om so opgewerk te raak nie.”

Dít is die soort denkwyseverandering wat mense moet ondergaan wanneer hulle wil skaaf en skuur aan hul liggaamlike voorkoms. Nuwe eetgewoontes moet stadig maar seker gekweek word.

Vir Neethling en Du Randt is kitsdiëte selde ’n volhoubare oplossing. Die aanslag wat daar in Slank vir gesonde gewigsverlies gebruik word, is nie om bloot vir die lekkerte ’n paar kilo’s af te skud nie.

“Dit gaan ook oor jou gesondheid. Talle deelnemers besef nie hoe hul eetgewoontes en hul gewig hul gesondheid beïnvloed nie.”

Een van die deelnemers, Toks van der Linde. (Foto: verskaf)

Een van dié deelnemers is die rugbylegende Toks van der Linde, een van die program se bekende deelnemers dié seisoen.

Du Randt vertel dat hy groot geskrik het toe hy sien hoe sy hartgesondheid veral deur sy gewig afgetakel is.

Talle mense verloor egter dikwels koers tydens hul gewigverlies en verval in ’n eetsteurnis. Die skaal word die belangrikste item in die huis en hulle weerhou hulself van al wat ’n ongesonde kossoort is.

Du Randt verduidelik egter dat jy jouself moet verstaan, weet waaroor jy maklik obsessief raak en jouself keer om te diep in daardie gat in te duik.

“Jy moet aandag gee aan dít wat jou in die eerste plek seergemaak het en veroorsaak het dat jy ’n ongesonde verhouding met kos het. Kos is eintlik net ’n sneller. Mense voel dikwels dat hulle nie ander goed in hul lewe kan beheer nie, maar hulle kan beheer wat hulle eet.”

Dit is vir haar verfrissend om te sien tot hoe ’n mate die deelnemers se selfvertroue verbeter soos wat die seisoen vorder. Du Randt verbly haar ook in die invloed wat die leefwyseverandering op die gesinne van die deelnemers het.

“Die deelnemers se kinders raak net so opgewonde om gesonder te begin eet.”

Vir haar is dit belangrik om ’n goeie voorbeeld vir die kinders in die huis te stel. ’n Slegte verhouding met kos is dikwels iets wat van geslag tot geslag oorgedra word.

Die tendens van Suid-Afrikaners wat hul kinders op vroeë ouderdomme aan kitsdiëte voorstel, kan op een van twee maniere aangepak word.

Neethling stel voor dat jy jou kinders se manier van dink en doen behoorlik moet verstaan om hulle opgewonde oor gesonde kos te maak.

“Jy moet onthou dat jou kinders nie dieselfde as jy is nie. Jy moet dit in ’n taal verduidelik wat hulle kan verstaan.”

Du Randt glo weer dat ’n gesonde leefwyse holisties aangepak moet word, en dat kinders diep bewus is van wat hul ouers dink, doen en sê.

“Jy moet regtig probeer om nie jou kinders aan jou slegte verhouding met kos bloot te stel nie.”

Op die ou end is gewigsverlies in net een persoon se hande; joune. Neethling benadruk egter dat enigeen daartoe in staat is om ’n daadwerklike verandering aan hul leefstyl te maak.

“Jy is die enigste persoon wat verantwoordelik is vir jou keuses. As jy regtig iets wil hê, sal jy dit maak gebeur,” het Du Randt bygevoeg.

  • Die sewende seisoen van Slank begin op Sondag 10 Julie om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.