Verfilming van laaste ‘Hotel’-seisoen skop af

Die rolverdeling van ‘Hotel’.

Die uiters gewilde kykNET-komediereeks Hotel keer binnekort terug na die kassie vir die vyfde en heel laaste seisoen.

Al die hoofspelers is weer daar: James Borthwick is Ferdie, maar dié keer is hy ʼn heeltydse gas in die hotel ná sy emigrasie na Nieu-Seeland nie volgens plan verloop het nie.

Jony (Simoné Pretorius) is deesdae die bestuurder van die hotel. Thomas (Beer Adriaanse) sit met die nagevolge van ʼn ouditeur wat nie net haar hande op die hotel wil lê nie, maar sommer vir Thomas ook in haar kloue wil hê.

Brenda (Martelize Kolver) sukkel met ʼn aanhoudende naarheid, hewige gemoedsteurings en ʼn onophoudelike lus om vir almal ʼn drukkie te gee. Die enigste ding wat nog soos ʼn paal bo water staan, is Danny (Schalk Bezuidenhout) en Malanie (Mila Guy) se onblusbare liefde … en die feit dat Jaap (De Klerk Oelofse) nooit liefde sal vind nie.

Ook Manie (Ivan Botha) en Dodgy Mike (Bennie Fourie) kom maak dinge interessant in die laaste seisoen.

Volgens Bennie Fourie, een van die skeppers van dié oorspronklike reeks, sal die vyfde seisoen ook die laaste een wees.

Die laaste seisoen van ‘Hotel’ word tans geskiet. (Foto: Petri Schoeman)

“Dit was ʼn absolute avontuur om die reeks te skep en die gewildheid van die reeks en karakters het ons wildste verwagtinge oortref.”

Scharl van der Merwe, vervaardiger, sê hulle het ʼn hele paar kaarte wat hulle nog styf teen die bors hou.

“Ons wil mense nuuskierig hou oor wie nog almal in hierdie seisoen gesien gaan word,” sê hy.

Die reeks word tans by die Kleinkaap Boetiek-hotel in Pretoria geskiet. Die skrywers is Bennie Fourie, Beer Adriaanse en Ryan Metcalfe met Claudia van Zyl wat hulle vir die eerste keer by die skrywerspan aansluit. Fourie is ook, soos met die vorige seisoen, die regisseur.

“Ons moes twee jaar lank uitstel om hierdie seisoen te skiet, so ons slyp ons tande al lankal. Dit is verskriklik lekker om weer al die karakters bymekaar te hê en ons almal werk hard om die land ʼn bietjie welverdiende lagkans te gee.”

Hotel het deur die jare verskeie South African Film and Television- (Safta-)benoemings en -pryse ontvang en vroeër vanjaar is Borthwick vereer as beste akteur in ʼn komedie, terwyl Kolver as beste vrouebyspeler in ʼn komedie vereer is.

Hotel sal in Januarie 2022 op die kassie begin draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.