‘Vetkoekpaleis’ se Liane steeds besig, borrelend

Liane Heyl in haar dae as Boeboe op Vetkoekpaleis. (Foto: Facebook/Liane Heyl)

Die gesoute aktrise Liane Heyl van Vetkoekpaleis-faam glo tot vandag toe nie in stilsit, negatief wees of in die verlede ronddwaal nie.

Ja, sy is steeds ʼn borrelende en besige blondine, maar is eintlik nog altyd ver verwyder van die karakters waarvoor sy deur die jare bekendheid verwerf het.

“Ek het ʼn moeilike jaar agter die rug, maar ʼn mens moet die lewe se mooi én swaarkry met vigor aanpak. Ek probeer die humor in alles raaksien, dit kom maar met ouderdom en wysheid, skattie,” vertel sy laggend aan Maroela Media.

Kykers het haar in die 1990’s leer ken as “Boeboe”, die vrolike en verstrooide kelnerin in Willie en Pieter Esterhuizen se trefferprogram, Vetkoekpaleis.

“Ek was in Londen toe ʼn pel my bel en sê Willie soek my vir dié rol. Toe ek met Willie gesels en sê ek gaan nie terugkom Suid-Afrika toe net vir ʼn oudisie nie, het hy gesê die rol is myne. Drie dae later was ek op ʼn vliegtuig op pad terug.”

In daardie stadium het sy by ʼn gimnasium gewerk en kritiek van kollegas afgelag wat haar besluit veroordeel het.

“Iemand het gesê ek is lekker laf om terug te gaan Suid-Afrika toe vir ʼn televisierol, maar ek het geweet sulke goed gebeur nie net nie. Toe ek ʼn paar jaar later terug in Londen was en foto’s van Vetkoekpaleis vir hulle wou wys, was die gimnasium toe. Jy sien hoe dinge uitwerk?”

Hoewel dié geliefde rol haar loopbaan behoorlik afgeskop het, en sy af en toe weer in haar kenmerkende geel en blou uniform vir eenvrouvertonings inglip, sê Liane dat mense tot vandag toe haar nie van haar karakter onderskei nie.

Ook haar liefdeslewe is deur die destydse geweldige aandag beïnvloed. Volgens Liane het daar selfs gereeld valse skinderstories op dorpe rondgeloop dat sy “manlike aandag té veel geniet”.

“Ek was vir baie lank ʼn alleenloper, want ʼn mens weet dan nie … hou iemand van jou of van die karakter? As mense my ontmoet, verwag én soek hulle vir Boeboe, hulle voel ʼn veer vir Liane,” skerts sy.

Tog sal sy nie haar tyd op die gewilde program verruil nie.

“Ek dink nie ons het altyd mooi besef watter geweldige impak dit gehad het nie. Mense sal my nou steeds nader en sê ek het hulle eens op ʼn tyd advies gegee, of hulle in ʼn moeilike tyd van hul lewe lekker laat lag. Dít is mos waaroor dit moet gaan, om mense goed te laat voel en lekker te laat lag.”

Sy beaam ander akteurs se positiewe sentimente rondom die Esterhuizen-broers se werksetiek en -atmosfeer.

“Almal sê dit, want dit is so: by hulle is jy familie. Daar is geen ego’s en geen divas nie, maar baie liefde en omgee. Ons het almal tot vandag toe nog ʼn hegte band.”

Daarom dra dié program se nuwe herlewing, Vetkoekpaleis II, wat vanaf 16 Desember gratis op die stromingsdiens AfriForumTV te sien is, haar goedkeuring weg.

Liane op die stel van ‘Ouboet en Wors’. (Foto: Facebook/Liane Heyl)

In Vetkoekpaleis II het “Klein Frikkadel”, seun van wyle Zack du Plessis en Hélène Truter se karakters, Frikkadel en Poppie, die Vetkoekpaleis tot in die afgrond bestuur terwyl sy ma by die see woon. Oom Wors, vertolk deur Willie, tesame met sy vrou, Molly (Lizz Meiring), gryp egter in om die restaurant tot sy volle glorie te herstel.

Ook Boeboe se dogter, “Boudjies”, dra nou die geel en blou uniform. Liane se voormalige Poena-medeakteur, Danielle Retief, vertolk dié rol.

Danielle Retief, wat die rol van ‘Boudjies’ vertolk. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Danielle is fantasties. Sy’s hoogs intelligent en baie, baie dinamies. Ek gun hierdie rol vir haar en kan nie aan ʼn beter of gawer persoon dink nie.”

Hoewel Liane nie self in dié aflewering te sien is nie, bly sy bedrywig.

Deesdae verdeel sy haar tyd tussen aanlyn Engelse klasse aanbied, oorklankingswerk en vertonings doen, asook fliek- en televisierolle vertolk.

Vir haar rol in Poena het sy vanjaar ʼn Silwerskermfeesbenoeming vir beste aktrise in ʼn televisiekomedie losgeslaan.

“Dit is altyd ʼn eer om raakgesien vir jou werk te word, en die funksie en fees was net ongelooflik. Ek is so beïndruk met die gehalte Afrikaanse vermaak wat deesdae gemaak word. Daar is opregte karakters, interessante storielyne en akteurs wat ʼn mens kan sien die regte opleiding gehad het – nie net ʼn klomp mooi gesiggies nie.”

Sy droom steeds van rolle vertolk waarin sy vir kykers ʼn ander kant van haar akteursvernuf kan wys, maar sê sy is tans tevrede en gelukkig.

As sy nie werk nie, is sy mamma vir haar dogter, Willow. “Kyk, ouerskap leer jou om baie balle in die lug te hou. Mammas kan mos alles doen, ons maak altyd ʼn plan.”

Die nuwe jaar hou vir haar ʼn opwindende projek in, waaroor sy nie tans veel wil verklap nie.

“Daar is altyd iets nuuts en ʼn volgende projek om na uit te sien. Verandering is maar ons as akteurs se enige konstant, maar ek is gewoond daaraan – ek geniet dit dat geen twee dae in jou loopbaan noodwendig presies dieselfde hoef te wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.