Video: ‘Beste finaal ooit,’ sê Simon oor Ndlovu-jeugkoor

Lede van die Ndlovu-jeugkoor (Foto: Facebook)

Die Ndlovu-jeugkoor ontvang al die afgelope paar weke slegs positiewe kommentaar van die beoordelaars van America’s Got Talent af, en dié week was geen uitsondering nie, toe Simon Cowell vir hulle sê dat hul vertoning gesorg het vir die beste finaal wat hy al ooit gekyk het.

Die Ndlovu-jeugkoor is op almal in Suid-Afrika én Amerika se lippe nadat hulle vroeër vanjaar vir ʼn oudisie gegaan het om aan die Amerikaanse weergawe van hierdie gewilde talentkompetisie deel te neem. Sedertdien het hulle harte wêreldwyd gesteel en deurgedring tot die finaal wat Dinsdagaand uitgesaai is.

“Ek bid vir een ding op hierdie program: Dat dit mense se lewens kan verander, en ek dink julle optrede het dit dalk so pas gedoen,” het Simon gesê.

Die Ndlovu-jeugkoor (Foto: Skermgreep uit die video)

“En die volgende bedoel ek regtig: Julle optrede het pas die beste finaal afgesluit waarvan ek nog ooit deel was in my lewe. Dit was verreweg jul beste optrede nog. Wonderlik!”

Howie Mandel, wat ook ʼn beoordelaar is, het beaam wat Cowell gesê het. “Dit is sover die mees inspirerende, emosionele, wonderlike en talentvolle finaal waarvan ek nog ooit deel was,” het hy gesê.

Die groep van 23 koorlede het in helder geel uitrustings trots aan Afrika gebly, terwyl hulle hul weergawe van Toto se “Africa” opgevoer het. Hulle het die beoordelaars én die gehoor op hul voete gehad.

Julianne Hough het die koor geprys vir die vreugde wat hulle na die verhoog toe bring en dat hulle vir die wêreld wys dat “as jy dit kan droom, kán jy dit doen”.

Ralf Schmitt (Foto: Facebook)

“Hierdie optrede het julle pad vorentoe verander, dankie daarvoor!” het Gabrielle Union gesê.

Die Ndlovu-jeugkoor kom uit die Moutse-nedersetting in Limpopo en word deur Ralf Schmitt afgerig. Al die koorlede kom uit armoedige omstandighede en baie van hul ouers is oorlede, wat veroorsaak dat hulle self na hul sibbe moet omsien.

Dié koor het in die finaal meegeding teen Tyler Butler-Figueroa, ʼn 11-jarige violis wat tans in remissie is nadat hy op vierjarige ouderdom met leukemie gediagnoseer is; Kodi Lee, ʼn 22-jarige blinde sanger van Kalifornië; die 14-jarige Benicio Bryant, ʼn sanger van Washington; en die Light Balance Kids, ʼn kinderdansgroep van die Oekraïne.

Die wenner van America’s Got Talent word Woensdagaand aangekondig en sal wegstap met $1 miljoen en ʼn kans om by Planet Hollywood Resort & Casino in Las Vegas op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Annette ·

Ek hoop Suid-Afrika se koor wen. Hulle is regtig goed en verdien dit.

Michelle ·

Ai – dit was absoluut pragtig gewees.
Wel gedaan.

Uitstekend !!!!!

WESKUS NOOI ·

Ek het niks teen die koor nie.

Sou hulle graag in SA got talent ook wou sien???

Maar is dit nie net VSA burgers wat kan deelneem nie?

Vra maar net???

Michelle ·

Hulle het Suid-Afrika se naam gehoog gehou – wel gedaan – dit wil gedoen wees.

Gesigloos ·

Ag asb, gun net die kinders n plekkie in die son, in die wrede wêreld waarin ons woon is dit seker nie te veel gevra nie, daagliks sterf kinders en dit was n kans vir hulle om hul droom uit te leef.

Betsie ·

Wow dit wil gedoen wees…. Baie geluk. Julle is alreeds wenners. ????????

Happy ·

Wow wow wow, die energie wat hulle uitstraal is amazing!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.