Video: ‘Blits-Bulletin’-akteurs wil kykers laat lag

Pietie Beyers, Luan Lauw en Grant Towers wat tans in Blits-Bulletin, AfriForumTV se splinternuwe komediereeks, te sien is, sê dié reeks gaan kykers behoorlik laat skater.

“Ek hoop kykers gaan so baie lag soos wat ons op stel gelag het tydens die opnames. Dit is regtig die eerste keer dat ons moes ophou skiet omdat die hele span net nie kan ophou lag vir die situasie nie,” vertel Pietie laggend.

Grant, wat in die rol van die bleeksiel Rudolf Nel te sien is, meen die verskeidenheid humor sal by ʼn wye gehoor aanklank vind. “Daar is iet vir alle kykers in hierdie reeks.”

Blits-Bulletin is ʼn ensemble-komediereeks wat oor die agter-die-skerms-lewe van ʼn bekende Afrikaanse nuusprogram handel.

Maroela Media het tydens die verfilming van hierdie reeks op die stel gaan inloer en met sommige van die akteurs oor hulle karakters en die storie gesels.

Pietie sê hy hou van die feit dat sy karakter, Sebastian Smit, nie bang is om homself te wees nie, terwyl Luan meen dat dit heerlik is om die rol van Luan Lauwrens te speel, omdat hulle teenoorgesteldes van mekaar is.

Die res van die rolverdeling bestaan uit Riaan Cruywagen (as homself), Bouwer Bosch (as JP van Greenen), Augusta Zietsman (as Andrei Ehlers), Elma Postma (as Lorraine Blignaut), André Lötter (as Thys Theunissen) en Jonathan Pienaar (as Van Wyk van Wyk).

Blits-Bulletin is deur Claudia van Zyl geskryf, die konsep is deur Pierre Malan ontwikkel en dit is vervaardig deur Laurika de Kock. Die reeks is op verskeie plekke in Pretoria verfilm onder meer in die AfriForumTV-ateljee, Ivory Manor, Moonshot Café en Pretoria Boys High School.

Die eerste drie episodes van Blits-Bulletin is reeds op AfriForumTV, ʼn gratis aanlyn stromingsplatform, beskikbaar waarna die volgende vyf episodes van dié reeks weekliks bekendgestel sal word.

Luister in hierdie video wat Pietie Beyers, Luan Louw en Grant Towers oor die reeks sê:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.