Video: Deon Meyer-reeks maak buiging op blou tapyt by KKNK

Plan B is Donderdagaand by die KKNK bekendgestel. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Aksie, spanning, beeldskone landskappe én skurke wat kosbare kuns steel.

Dít klink dalk soos die resep van ʼn Hollywood-spioenfliek, maar is alles te sien in die eg Afrikaanse misdaadkomedie Plan B – wat Donderdagaand voor ʼn uitgesoekte gehoor sy buiging op die kleinkassie én die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gemaak het.

Plan B vertel in vyf aksiebelaaide episodes die verhaal van ʼn man met ʼn militêre agtergrond, Ivan Malan (Tim Theron), en sy vennoot, Paul Schmidt (Arnold Vosloo), wat ʼn bendebaas beroof en die Vlammemeisie steel – ʼn skildery deur die meesterskilder Vermeer wat €30 miljoen werd is.

Intussen word Ragel Bergh (Amalia Uys) uit haar erfporsie deur die glyjakkals Joshua Lansky (Armand Aucamp) geswendel. Alles lyk vir haar verlore tot ʼn  kunswaardeerder haar en Ivan en Schmidt se paaie laat kruis en al drie dieselfde ding wil hê: die Vlammemeisie.

Bekendes soos Dorette Potgieter, Rolanda Marais, Anrich Herbst, André Jacobs en Joe Moroko is ook daarin te sien.

Die reeks is geskoei op Deon Meyer se 1994-boek Wie met vuur speel, maar is deur draaiboekskrywer Tertius Kapp gemoderniseer. Jozua Malherbe, wat saam met Vosloo en Theron op Griekwastad gewerk het, is weer in die regisseurstoel.

“Dit sal nooit vir my oud word om te sien hoe akteurs nuwe lewe in my karakters blaas nie. Omdat dié reeks op een van my eerste boeke gebaseer is, kan ek met baie selfvertroue sê dat die TV-program veral in dié geval by verre beter as die boek is,” skerts Meyer.

“Dis ook iets nuuts in Afrikaans. Die aanslag is baie lekker, dis ʼn vinnige tong-in-die-kies-tempo. Dis ʼn ware spanningsvolle aksiekomedie en so iets in Afrikaans is nogal skaars,” voeg hy by.

“Om weer in Suid-Afrika te werk beteken ek is weer tussen my mense, in voeling met ʼn taal en kultuur waarvoor ek lief is,” vertel Vosloo.

“Afrikaans is die mooiste taal in die wêreld. Ek veronderstel een maal ʼn boerseun, altyd ʼn boerseun. Dan natuurlik om weer saam met Scene 23, die span van Griekwastad, te werk. Cobus, Tim en Jozua is soos my broers. Ons verstaan mekaar.”

Kykers kan volgens Theron ook uitsien na ʼn “’n stewige skeut nostalgie” wat deur aksiereekse van die 1970’s en 1980’s soos Hawaii Five-O en moderne rolprente soos Ocean’s Eleven geïnspireer is.

“Dis reekse wat aksie en spanning het en ernstige sake aanspreek, maar altyd pret is om te kyk.”

Plan B begin op 26 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Kyk die video van die bekendstelling hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.