Video: Heimwee, humor heers op ‘Vetkoekpaleis II’-stel

Die hoofakteurs van ‘Vetkoekpaleis II’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dit is asof ons 25 jaar terug in tyd gegaan het. Alles lyk én voel nou weer dieselfde.”

Só beskryf die skrywer en akteur Willie Esterhuizen die atmosfeer op die stel van Vetkoekpaleis II – wat tot einde Oktober regstreeks voor gehore by die AfriForum Teater in Pretoria verfilm word.

Maroela Media het onlangs berig dat dié geliefde Afrikaanse komedie eersdaags ʼn herlewing of “reboot” gaan kry, en weer behartig word deur broers Willie en Pieter Esterhuizen, wat vir die oorspronklike reeks verantwoordelik was.

“Almal vra hoekom, maar hoekom nie? Ons weet die karakters werk, die dialoog werk, dit is snaaks. Nou het ons elemente soos sosiale media en die Internet om by te voeg, so hoekom maak ons nie ʼn 2023-weergawe nie?” vertel Willie by een van dié geliefde, fiktiewe Nigel-restaurant se tafels aan Maroela Media.

In Vetkoekpaleis II het “Klein Frikkadel”, seun van wyle Zack du Plessis en Hélene Truter se karakters, Frikkadel en Poppie, die Vetkoekpaleis tot in die afgrond bestuur terwyl sy ma by die see woon. Oom Wors, vertolk deur Willie, tesame met sy vrou, Molly (Lizz Meiring), gryp egter in om die restaurant tot sy volle glorie te restoureer. Ook Boeboe se dogter, “Boudjies”, sal in die kenmerkende geel en blou uniform glip.

Willie Esterhuizen op die stel van ‘Vetkoekpaleis II’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die nuwe Vetkoekpaleis-stel is dalk ietwat kleiner, maar die kenmerkende blou en wit tafeldoeke, “kos en koeldrinks”-spyskaarte en Oom Frikkadel se rugby memorabilia, baie nog van die oorspronklike SAUK-stel, sorg vir ʼn goeie dosis heimwee.

“Vetkoek se resep het gewerk. Dit het hart. Jy sien die mense met hulle foute en hoe hulle mekaar aanvaar. Dit is ons dam se eende, gewone blue collar-komedie. Dít is hoekom dit gewerk het en steeds doen,” meen Willie.

“Almal het so goed in hulle rolle ingepas en die gehore geniet dit verskriklik. Daar is niks so lekker soos om ʼn komedie voor ʼn gehoor op te neem nie. Mense lag ook net as dit werklik snaaks is, so dit is ʼn goeie bepaler van wat bly en wat gesny moet word,” voeg hy oor die verfilmingsproses by.

Die akteur Wynand van Vollenstee, wat in “Klein Frikkadel” se groot skoene klim, sê dié rol is “ʼn volle sirkel oomblik”.

“Ek dink nie daar is ʼn Afrikaner wat nie op een of ander stadium al gekyk het nie. Ek het dit as kind gekyk en my agtjarige seuntjie kyk dit nou op YouTube. ʼn Mens probeer nog sin daarvan maak dat jy dit as kind beleef het en nou deel daarvan kan wees – dit is net ʼn fees.”

Danielle Retief, bekend vir haar rol as Shakira Haasbroek in Poena, se karakter “Boudjies” is dalk een van die nuwe people of the palace, maar as kind was sy tuis op die oorspronklike Vetkoekpaleis-stel.

“Ek en Pieter Esterhuizen se dogter, Sanchia, was besties op laerskool, so ek het baie saam met die gesin op die stel gekuier. My ma het ʼn lekker lag en was ook gereeld deel van die gehoor.”

Hoewel sy Boeboe se dogter speel, benadruk Danielle dat sy nie vir Liane Heyl – wat dié geliefde karakter lewe gegee het – wil naboots nie.

“Ons het al gereeld saamgewerk en sy is opgewonde vir my en het my aangemoedig om die geleentheid aan te gryp. Liane het met Boeboe die vertrek opgehelder en ek wil hê Boudjies moet dieselfde doen.”

Sy het ook begrip vir gehore wat beskermend oor die oorspronklike reeks is, maar voel moderne gehore verdien ook om Vetkoekpaleis opnuut te ervaar – veral met die regstreekse opnames.

“Ek dink dit gaan jonger gehore boei en terugtrek na die oorspronklike reeks en die ouer gehore aanmoedig om sommer alles weer van vooraf te kyk,” terg sy.

Vir Lizz Meiring, wat destyds Boeboe se niggie, “Sue-Ellen”, in die oorspronklike reeks vertolk het, was die eerste dag van verfilming op Vetkoekpaleis II soos déjà vu.

“Hulle het so baie moeite gedoen om die stel te herskep en van die rekwisiete te bêre, maar ongeag bly dit goeie gehalte Afrikaanse vermaak. Die manier waarop Pieter en Willie televisie maak, bewys dat goeie humor nie tydsgebonde is nie, maar vir ewig is.”

Die vermenging van nuwe en ouer karakters en akteurs uit beide Vetkoekpaleis en Molly en Wors gaan volgens Lizz sorg vir heerlike humor.

“Destyds het ons sulke kort rokkies en hoë hakkies gedra. Toe Willie my nou gekontak het, het ek eers geskrik, want ek dink nie ek kan meer daardie uitrustings dra nie,” skerts sy.

Sy het ook net lof vir die jonger garde op die stel en sê die “oues” het reeds mekaar se hoekies afgeskaaf om eerlik te wees oor wat werk.

“Ons het ʼn goeie balans tussen die verskillende generasies. Op die ou einde het ons almal net een doel voor oë en dit is om ʼn storie te vertel. Ons het net die kanale om die storie te dien – hetsy jonk of oud.”

Sy glo selfs diegene wat nog nooit Vetkoekpaleis gekyk het nie, sal aanklank by die nuwe herlewing vind.

Vetkoekpaleis is so eg Suid-Afrikaans soos ʼn braaibroodjie, poetoepap en moerkoffie. Dit is ʼn refleksie van wie en wat ons as mense is. Al die gewone goed waaroor ons lag, huil en wonder is vervleg daarin. Jy kan net terugsit en lekker lag.”

  • Kyk hier na Maroela Media se besoek aan die stel van Vetkoekpaleis II:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Linda ·

Wat het van Koekie geword? Was sy nie Worsie se vrou in Vetkoekpaleis nie? Of is Mollie nou die gewese Koekie wat bietjie uitgereis het soos n boere brood?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.