Video: Kunstenaars skitter weer in lewende lywe by Fiëstas

Die aand is met ‘n prag-optrede afgesluit. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Hoewel vanjaar se Fiësta-toekennings ʼn kleiner gehoor en minder kategorieë gehad het, is die talent wat tydens dié spoggeleentheid gevier is, steeds merkwaardig groot.

Anders as vorige jare is dié feestelike geleentheid, wat kreatiwiteit en die uitvoerende kunste vereer, vanjaar voor ʼn uitgesoekte gehoor in Kaapstad vooraf opgeneem en 27 Maart op kykNET uitgesaai.

Die aand het ook hope talent, talle verrassings en selfs ʼn traan of twee opgelewer.

Die veteraan-joernalis Martie Meiring, wie se dogter Kabous Meiring die vervaardiger, regisseur en aanbieder van Prontuit op kykNET is, die teater- en beligtingsfoendi Mannie Manim, die ikoon David Kramer en die kunstenaar Conrad Theys is vanjaar met Legende-pryse vereer.

Kramer se vriend, wyle Taliep Petersen, se sanger- en aktrisedogter, Jawaahier, het dié spesiale toekenning aan haar “uncle Dawid” oorhandig. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Kramer se ewe legendariese “musiekbroer” en vriend, wyle Taliep Petersen, se sanger- en aktrisedogter, Jawaahier, het dié spesiale toekenning aan haar “uncle Dawid” oorhandig.

Nêrens, Noord-Kaap se Albert Pretorius en Tinarie van Wyk Loots, asook die skrywer, regisseur en voormalige 7de Laan-akteur Christo Davids is vanjaar elkeen met die Sinjatuur-toekenning vereer. Dié prys is verlede jaar ingestel as aanmoediging en erkenning vir jonger kunstenaars wat begin om diep spore in hul loopbane te trap.

Dit sal natuurlik nie die eerste Fiësta-toekenning wees wat op Davids se rakke pronk nie. Hy en sy oom, Lloyd Davids, se teaterstuk Queenie-hulle, is in 2020 met drie Fiësta-pryse vereer. Dié stuk is in die 90’s deur Davids se oom geskryf en handel oor hawelose mense wat op die voorstoep van die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad woon.

Davids se oom het ook ’n paar jaar gelede ter nagedagtenis van sy oupa en veteraanakteur Goliath Davids – onder meer bekend vir sy rol as Selling Komoetie  in die rolprent Fiela se Kind – die Goliath Davids Arts Academy vir skoolkinders in die Heidelberg-omgewing in die Wes-Kaap gestig.

Christo Davids oorhandig die toekenning vir beste opkomende kunstenaar aan nuweling Stephren Saayman. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Davids het tydens vanjaar se geleentheid die toekenning vir beste opkomende kunstenaar aan nuweling Stephren Saayman, wat toevallig as kind sy opleiding by dié einste akademie begin het, vir sy spel in die Suidoosterfees se Mannetjie oorhandig.

Dineke van der Walt het as kurator die toekenning in die visuelekuns-kategorie vir Aardklop se uitstalling Liewe Land! ontvang. In dié unieke uitstalling is onaangeraakte afdrukke van kunswerke uit die argiewe van die Voortrekkermonument deur kunstenaars soos die legende Diane Victor “herdink”.

Die nuutskeppings is toe langs die oorspronklikes verlede jaar by die Aardklop-opwipfees by die Voortrekkermonument uitgestal.

Schalk Joubert, musiekregisseur van die Woordfees-produksie David Kramer-huldeblyk: Boland tot Broadway het die prys ontvang vir beste musiekgedrewe produksie.

Die uittredende hoof van kykNET, Karen Meiring. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Ferine & Ferase is aangewys as die beste feesproduksie en Sylvaine Strike, wat saam met Andrew Buckland nie net daarin speel nie, maar ook vir die teks verantwoordelik was, het die prys in ontvangs geneem.

Daar is ook onder groot geheimhouding ʼn spesiale toekenning vir die uittredende hoof van kykNET, Karen Meiring, beplan.

Maroela Media het vroeër berig dat Meiring verlede jaar ná 13 jaar as hoof van die kykNET-familie van kanale afgetree het en Waldimar Pelser, voormalige redakteur van Rapport, in Februarie vanjaar die leisels by haar oorgeneem het.

Die prys is vir haar lewenslange uitsonderlike bydrae tot die kunste en van haar familie, vriende en kollegas het almal saamgekonkel om inligting en foto’s bymekaar te kry en die toekenning ʼn geheim vir haar te hou.

ʼn Emosionele Meiring het tydens die geleentheid gesê dat die kunste na haar mening nie ʼn luuksheid is nie, maar ʼn absolute noodsaaklikheid.

Ander aanbieders en kunstenaars wat ook deel van die toekenningsaand was, was onder andere Amanda Strydom, Dean Balie, Daneel van der Walt, Wilhelm van der Walt, Jody Abrahams, Stian Bam, Vinette Ibrahim en Cintaine Schutte.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.