Die perfekte slaaproetine

Dit wat jy deur die loop van die dag doen, kan ʼn groot invloed hê op hoe jy daardie aand gaan slaap. ʼn Vakansie is die ideale tyd om te toets watter slaaproetine die beste vir jou werk.

Vermy om te vroeg (of te laat) te oefen

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire/Pixabay)

Volgens wetenskaplikes is die beste tyd om te oefen net ná 12:00 in die dag. ʼn Studie wat in 2012 op muise gedoen is, en in die Journal of Physiology gepubliseer is, het bepaal dat die diere se hartritmes beter reguleer as hulle ná 12:00 in die dag op wieletjies gehardloop het, eerder as vroegoggend of net voor slaaptyd.

Vermy alkohol of kaffeïen minstens ses ure voor slaaptyd

Argieffoto (Pixabay)

Kaffeïen en alkohol is albei stimulante wat sal veroorsaak dat jy in die bed rondrol, en jy sal ook ligter slaap as jy uiteindelik aan die slaap raak. Navorsers by die Henry Ford-hospitaal in Michigan se Sleep Disorders & Research Center en Wayne State College of Medicine het bevind dat ʼn koppie koffie, ses ure voor jy gaan slaap, jou gehalte en hoeveelheid slaap kan beïnvloed.

Daar is ʼn algemene wanopvatting dat alkohol jou sal help om te slaap, maar ʼn glas of twee voor slaap tyd kan jou slaap beïnvloed. Begin eerder om water te drink teen die middel van jou aandjie uit.

Verbied skerms uit jou slaapkamer

Argieffoto (Foto: DanFa/Pixabay)

Talle van ons het al aan die slaap geraak voor die televisie of blaai doelloos deur sosiale media wanneer jy reeds in die bed lê. Dis egter nie net die media wat jou slaaptyd en gehalte daarvan beïnvloed nie – dis die skerms self. ʼn Studie deur Harvard-navorsers het bevind dat toestelle, wat lig uitstraal, jou sirkadiese ritme beïnvloed, melatonien onderdruk en REM-slaap verminder.

Kry ʼn gereelde slaapskedule

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos/Pixabay)

ʼn Konsekwente slaaproetine (selfs oor naweke en met vakansies) kan jou slaapgehalte verbeter. Jou sirkadiese ritme (jou “natuurlike horlosie”) reageer op lig en donkerte en as jy dit versteur, kan dit ʼn negatiewe invloed hê soos verhoogde angs en breinversteurings.

As jy op dieselfde tyd gaan slaap en wakker word (selfs oor naweke), skep jy vir jouself ʼn natuurlike slaapskedule – binnekort sal jy dalk selfs nie eers ʼn wekker nodig het nie!

Volgens Susanna Jernelöv, ʼn sielkundige en slaapnavorser by Swede se Krolinska Instituut, is die oggende wat jy bietjie laat slaap nie produktief nie en dit ondermyn jou ritme.

Slaap minstens ses ure…

Argieffoto (Foto: Wokandapix/Pixabay)

Slaap minstens ses ure per aand. ʼn Gebrek aan slaap kan jou langtermyngesondheid negatief beïnvloed (verskeie studies het dit al bewys). Die Erasmus MC Universiteit se mediese sentrum in Rotterdam en die University of Surrey het na 5 000 gesonde, middeljarige volwassenes gekyk. Diegene wat minder as ses ure geslaap het, het ʼn 4.5% groter kans gehad op beroerte as persone wat sewe tot agt ure slaap per aand ingekry het.

… maar nie meer as agt ure nie

Argieffoto (Foto: Wokandapix/Pixabay)

Slaap is goed, maar te veel daarvan is ook nie goed nie. Om die waarheid te sê, dit kan sleg wees vir jou gesondheid. ʼn Onlangse studie in die European Heart Journal het bevind dat meer as agt ure slaap tot ʼn 5% groter kans kan lei om hart- of bloedsiektes te ontwikkel.

Word saam met die son wakker

Argieffoto (Foto: Skitterphoto/Pixabay)

As jy met natuurlike sonlig wakker word, kan dit ʼn hupstoot wees vir jou dag. Ons het die hoër serotonienvlakke nodig en dit verbeter ons sirkadiese ritme. Die joernaal Sleep Health het in 2017 ʼn studie met 81 werknemers gedoen wat ligtoestelle vir ʼn week lank in die somer en die winter gedra het. Diegene wat baie oggendlig ingekry het, het beter geslaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TS ·

Dit klink wonderlik.
Gee nou net asb raad vir ouers wat kinders het EN wat werk.

Raad ·

Kry kinders van jongs af in ‘n roetine in wat die ouers baie selde toelaat om onderbreek te word. Dit is oor en oor die moeite werd en gee gelukkiger ouers en kinders.

Bietjie moeilik om te begin, maar baie groot hulp as dit eers op dreef is. En moenie die kinders voor die skerm laat sit nie – veral nie kort voor slapenstyd nie.

‘n Vriendin van my is ‘n dagmoeder – sy het al vertel hoe sy die kinders in daaglikse roetine het en Maandae is haar moeilikste dag met die kinders want oor naweke is daar geen roetine by die kinders se ouerhuise nie….

Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.