Eerste vrou voltooi uitmergelende marathon

Jasmin Paris (Foto:
@searchingforzocherman/Instagram)

Jasmin Paris, ʼn 40-jarige veeartsenydosent aan die Universiteit van Edinburgh, Skotland, was Vrydag die eerste vrou om die berugte Barkley-marathon in Frozen Head State Park in Tennessee in die VSA te voltooi.

Sedert 1989 het meer as 1 000 ultramarathonatlete al die uitmergelende roete aangedurf, maar nog net 20 het betyds die eindstreep gehaal.

Sy het die 100 myl-roete (ongeveer 160 km), met ʼn hoogtegraad van 16 500 meter, in 59 uur, 58 minute en 21 sekondes afgelê. Dit is 99 sekondes voor die afsnytyd.

Dié hoogte is soortgelyk daaraan om Everest twee keer uit te klim – binne 60 uur.

Die kursus, wat van jaar na jaar verskil, bestaan uit vyf rondtes van ongeveer 20 myl oor rowwe terrein.

Die Barkley-roete was die breinkind van Gary “Lazarus Lake” Cantrell en Karl Henn (Raw Dog). Die twee mans het met die idee vir die wedren vorendag gekom toe hulle gehoor het van die ontsnapping van James Earl Ray, die man wat Martin Luther King Jr. vermoor het. Ray het in 1977 uit die nabygeleë Brushy Mountain-tronk ontsnap en ná 54,5 uur in die woud slegs sowat 19 km afgelê. Cantrell het gereken hy sou self minstens 100 myl kon aflê.

Cantrell het die marathon na sy buurman en medehardloper Barry Barkley vernoem. Die eerste wedren het in 1986 plaasgevind. Barkley is in 2019 in die ouderdom van 70 oorlede.

Slegs 35 persone word jaarliks toegelaat om aan die wedren deel te neem. Vereistes en die sperdatum vir aansoeke word streng geheim gehou. Geen besonderhede word publiek gemaak nie.

Voornemende deelnemers moet ʼn opstel oor “Why I Should be Allowed to Run in the Barkley” skryf en aansoekgeld van $1,60 betaal. Indien jy goedgekeur word, kry jy ʼn briefie “waarmee meegevoel betuig word”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.