Foto’s: Mannekyne jaag kopers skrik op die lyf

Een van die foto’s van die huis in South Lake Tahoe (Foto: Zillow)

ʼn Gewone huis wat te koop aangebied word, jaag voornemende kopers skrik op die lyf weens mannekyne wat oral in die huis te sien is.

Die huis in South Lake Tahoe, Kalifornië in die VSA, is te koop vir $650 000 (sowat R9,7 miljoen) en van buite lyk dit nie vreemd nie, maar voornemende kopers kan dalk afgeskrik word oor dit wat binne te sien is.

Die drieslaapkamerhuis, wat op Zillow te koop aangebied word, word bemark as “ʼn uitstekende inkomstepotensiaal” en word “voetstoots verkoop”.

Meer as ʼn dosyn mannekyne is in die huis te sien – almal geklee in veelkleurige, blink rokke, gepas vir ʼn matriekafskeid en hulle het almal pruike op, soos eerste berig deur die Daily Star.

In ʼn ander kamer staan die mannekyne langs ʼn standbeeld van die Maagd Maria, ʼn beeldjie van ʼn hond, poppe en ʼn manlike mannekyn.

“Met ʼn bietjie liefde bied dié dupleks ʼn uitstekende inkomstepotensiaal,” lui die beskrywing op die eiendomsagent-webwerf. “Dit is sentraal geleë en naby aan casino’s, strande, winkelsentrums, ski-geleenthede en die enigste fliek in die dorp. Op die boonste verdieping is ʼn ruim drieslaapkamer, tweebadkamer-eenheid beskikbaar en ʼn eenslaapkamer-eenheid en een motorhuis is op die grondverdieping. ʼn Groot oprit het ruimte vir verskeie motors. Moenie dié unieke geleentheid misloop nie! Die eiendom word voetstoots verkoop.”

Foto’s van die huis was baie gewild op sosiale media nadat dit op Twitter gedeel is. Die skrywer Amanda Deibert het op Twitter gesê: “Absoluut niks grillerig hier te sien nie.” Nog ʼn persoon het laat weet: “Ek blaai een vir een deur die foto’s: ʼn bietjie morsig, vreemd, waarom maak die patio-deure oop in die motorh … WAT OP AARDE?!”

ʼn Ander gebruiker wou weet waarom sou die eiendomsagent nie die eienaar laat weet het om eers die mannekyne te verwyder nie. “Dit trek mens se aandag af en dit is uiters vreemd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stof ·

Diegene wat kla oor die manekyne ly waarskynlik aan die nare afwyking genaamd normaliteit, en het nog nie hulle eie kreatiwiteit ontdek nie.
Die decor is treffend. As ek die huis sou koop, sou ek die decor saam wou koop.
Viva kreatiwiteit en oorspronklikheid.

Misky ·

Ek het dadelik opgemerk dat daar 2x kombuise is, so die een moontlik woonstel aan huis. Dalk is dit n enkel gay man en soek “geselskap”. Ek het n gay vriend en hy het ook n mannekyn in sy woonstel en trek haar elke week n ander uitrusting aan en n mooi pruik. Eintlik baie kreatief en uniek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.