Handsak van R4,2 miljoen ‘duurste ooit in Europa’

Dié Matte Himalaya Niloticus Crocodile Birkin 35 is in Londen by ʼn veiling van die afslaer Christie’s vir £236 750 verkoop. Foto: Christie’s

ʼn Hermès Birkin-handsak wat vandeesweek vir £236 750 (sowat R4,2 miljoen) verkoop is, word bestempel as die duurste handsak wat al ooit in Europa van die hand gesit is.

Dié Matte Himalaya Niloticus Crocodile Birkin 35 is Woensdagaand in Londen by ʼn veiling van die afslaer Christie’s vir hierdie astronomiese bedrag verkoop.

Hermès Birkin-handsakke is baie gesog en selfs die kleinste en eenvoudigste Birkin-handsak kan die koper vanaf R150 000 of meer uit die sak jaag. Selfs al is jy bereid om die aardige bedraggie vir ʼn handsak op te dok, is daar dikwels ʼn maande lange waglys om die eienaar van een van hierdie toebehore te word.

Die Birkin-handsak wat Woensdagaand verkoop is, is egter geen gewone Birkin-handsak nie. Christie’s beskryf op sy webwerf die handsak as “die heilige graal van handsakversamelings”. Volgens die afslaer is die handsak gemaak uit die vel van ʼn Nylrivier-krokodil.

Dié Matte Himalaya Niloticus Crocodile Birkin 35. Foto: Christie’s

Die handsak word die “Himalaja Birkin” genoem weens die delikate gradering van die kleur. “Die rokerige grys vervaag in ʼn pêrelwit, wat lyk soos die majestueuse sneeupieke van die Himalajas. Die proses om die krokodilvel te kleur is tydrowend en aansienlik moeiliker namate die skakerings ligter word – om die foutlose wit van die sneeu en die gradering van die klipperige grys te skep, is iets wat baie vaardigheid en ʼn fyn oog vereis,” lui die inligting op die webwerf.

Dit is nie bekend wie die handsak gekoop het nie, maar dit is ʼn uitgesoekte handjievol van die wêreld se rykes wat tans Himalaya Birkins besit. Kim Kardashian het een in haar versameling, asook Victoria Beckham, die vrou van David Beckham.

Die handsak is egter verreweg nie die duurste handsak wat al ooit verkoop is nie. CBS News berig die duurste handsak ooit was die 1001 Nights Diamond Purse deur House of Mouawad wat in 2011 vir $3,8 miljoen (vandag sowat R54 miljoen) verkoop is. Die handsak spog met 4 517 diamante met ʼn gesamentlike gewig van byna 382 karaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adri ·

Hoe belaglik kan ‘n ryk mens word? Regtig! ‘n Handsak!?!

Sputnik ·

Mens kan amper sê ” hoe Hlaudi kan ‘n ryk mens nie word nie!” Dit is nou belaglik verby!

RG ·

Hoe maak mens sin daarvan om elke dag te hoor van aards verwarming en hoe ons plastiek moet verban terwyl die winkels oorstroom met swak kwaliteit klere, handsakke, skoene? Waar gaan dit alles heen wanneer dit nie verkoop word nie en waar gaan dit heen wanneer dit na een seisoen uitgegooi word? Wat leer ons jong mense uit sulke belaglikheid soos die handsak. Verstaan hulle dat die mense wat hierdie gemors vervaardig ‘n handjie vol skatryk mense is wat iewers in die Bahamas in kortbroek, T-hemp en sandale rondloop en nooit ooit sulke produkte self sal koop nie. Verstaan hulle dat hierdie mense elke dag hul bankrekenings dop hou om te sien hoeveel dwase hul handsakke gekoop het. Ek het my kinders geleer dat daar twee soorte mense in die lewe is, vervaardigers en verbruikers, kies wie jy wil wees en dit sal jou eindbestemming bepaal en jou bank balaans.

Ena small ·

Duur handsakke en erens in lewe sterf mense van honger.

Piet Snot ·

Hoeveel armes kon ‘n toekoms gekry het met daai geld!

Marie Visser ·

Wys jou hoe van geen waarde is sommige mense se mensewaardes. Miljoene mense sterf van die honger en vele idiote betaal duisende vir ‘naam’ produkte. Laat ‘n wrang smaak in die mond agter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.