Hele dorp help toe katjie in boom vassit

Die reddingspoging om Cookie uit die boom te help (Foto: AP Scaffolding Services/Facebook)

Byna ʼn hele dorp in Wallis het onlangs ingespring om te help toe ʼn katjie in ʼn boom vasgesit het.

Inwoners in Tredegar, in die suidooste van Wallis, het vier dae lank om die 12 meter hoë boom bymekaargekom om die katjie te help, berig Metro News.

Leanne Skinner (36) het aan Metro News gesê dit het die Saterdag begin toe sy saam met vriende gaan stap het. “Ons was op pad terug huis toe, toe ek ʼn kat hoor huil. Ons het oral gesoek, in die bosse en oral, maar kon nie die kat sien nie. Ons het net ʼn harde gehuil gehoor.”

Skinner en haar vriende het besef die kat is iewers in ʼn boom vasgekeer en het die dierebeskermingsvereniging RSPCA gekontak. Die organisasie het die volgende dag opgedaag en die katjie het nog steeds nie beweeg nie. Die organisasie het ook die brandweer ontbied, maar pogings om die kat te red, ʼn wyfie genaamd Cookie, was alles tevergeefs. Cookie het net verder op in die boom geklim – waarskynlik omdat sy bang was.

Skinner het intussen op Facebook ʼn boodskap gedeel en het verstommende reaksie ontvang. “Daar was so baie mense wat my gebel het en boodskappe gestuur het om hul hulp aan te bied,” het sy gesê. “Ons het selfs twee kersieplukkers gehad wat probeer help het en ander mense het probeer om haar met ʼn visvangnet af te kry of haar selfs met kos en snoepgoed te lok.”

Sy kon byna nie glo hoeveel mense reageer het nie. “Wie sou kon raai dat ʼn klein Facebook-status soveel reaksie sou uitlok? Die hele Tredegar het ingespring en dit lyk of almal die katjie wil red.”

Volgens die BBC het ʼn maatskappy, wat steierwerk bou, ook die inskrywing gesien en ʼn spesiale struktuur om die boom gebou.

Dit het vier dae geneem voor Cookie ingestem het tot hulp.

AP Scaffolding Services het gesê die redding was ʼn “gemeenskapspoging” ná Cookie uiteindelik gered is en Skinner bedank dat sy alles in haar vermoë gedoen het om die katjie te red.

She’s down! ????Thank goodness she’s safe and can now be reunited with her owners.This truly was a community effort! From…

Posted by AP Scaffolding Services on Tuesday, September 29, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.