Kameras oral in huis, ja of nee?

(Foto: Danny Lines/ Unsplash)

ʼn Debat het behoorlik op sosiale media posgevat nadat ʼn vrou raad gevra het oor haar man se voorstel om kameras oral in hul huis te laat installeer om “snaakse en roerende oomblikke te kan vasvang”.

Hoewel die vrou haar man se rede kon insien, was sy bekommerd oor dié voorstel aangesien sy pas met kraamverlof begin het en voel dit sal haar privaatheid skend.

“Ek verstaan seker waar hy vandaan kom, ons seun is sy eerste kind en hy is ’n goeie en liefdevolle pa,” het die vrou op Mumsnet geskryf.

“Hy hou daarvan om video’s van sy seun te neem en te kyk, om hom te sien grootword. Ek het egter pas met kraamverlof begin, en vir hom gesê dat ek ongemaklik gaan voel as ek weet dat ek heeldag lank verfilm word as ek alleen by die huis is. Veral in ons slaapkamer waar ons slaap en aantrek, en alleentyd het!”

Sy het raad gevra om dié debat tussen haar en haar man te ontlont. “Ons het ’n kleuter, ’n seun, wat baie van die gewone oulike, snaakse en onverwagse dingetjies doen, en my man praat voortdurend oor die installering van kameras in elke kamer in die huis sodat ons al die snaakse en openhartige oomblikke kan vasvang.

“Ons seuntjie het byvoorbeeld vandag iets snaaks met ons kat in ons slaapkamer gedoen terwyl ek besig was om aan te trek, ek het my man daarvan vertel en hy het dadelik gereageer deur te sê ‘dit is hoekom ons kameras op moet hê!’

“Hy sê dat ek die vreemde een is en dat meeste mense geen probleem daarmee sal hê om vir 24 uur elke dag soos ‘Big Brother’ verfilm te word nie. Ek dink egter hy kort empatie en om dinge vanuit ander se perspektief te sien en ek is seker die meeste mense sal ongemaklik hiermee voel, nes ek.”

“Help asseblief om ’n debat tussen my en my man tot ʼn einde te bring,” lui die skrywe.

Internetgebruikers was geskok dat hy selfs so iets sou voorstel – met sommige wat dit as “aaklig” bestempel.

“Jy is nie onredelik nie – jou man is die vreemde een wat elke oomblik van elke dag wil verfilm met die kans dat jou seun iets snaaks doen,” sê een inskrywing.

“Net vreemd en geen manier nie. Gebruik net ’n foon om snaakse oomblikke te verfilm!” lui nog ʼn inskrywing.

Ander dink egter ook die vrou is “onredelik” en het hulle mening oor die geval duidelik gemaak.

“Jy is onredelik – daar is niks fout daarmee om onder 24/7 toesig in jou eie huis te bly nie, hou op om ’n weirdo te wees.”

Bron: Mirror.co.uk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Die eggenoot het seker sy redes , maar dit klink raar en vreemd en mens kan met haar saamstem en begrip vir haar huiwerigheid hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.