Ma verander seun se naam ná spelfout op tatoe

Johanna Giselhäll Sandström se tatoe

ʼn Ma wat ʼn spelfout in haar tatoe opgemerk het, het besluit om eerder haar seun se naam te verander om daarby aan te pas.

Johanna Giselhäll Sandström (30) het ʼn plaaslike tatoekunstenaar in Kyrkhult, Swede, gevra om die name van haar twee kinders op haar arm te tatoeëer. Eers toe sy by die huis kom, het sy ontdek haar seun, Kevin, se naam is “Kelvin” op die tatoe.

“Ek het gesê ek wil die name van my kinders op my arm hê en het hulle name vir die kunstenaar gegee,” het sy aan die plaaslike koerant, Blekinge Läns Tidning, gesê. “Die kunstenaar het die ontwerp geteken en het nie iets oor die spelling gevra nie, so ek het nie verder daaraan gedink nie.”

Eers toe haar niggie vir haar ʼn foto van die tatoe wys, het sy die fout ontdek en sommer dadelik begin huil. “My hart het byna gaan staan, ek het gedink ek gaan flou val!”

Die tatoekunstenaar het glo gelag toe sy die fout vir hom wys en hy het gesê daar is niks wat hy kan doen, buiten om vir haar ʼn terugbetaling te gee nie. Sandström het ook uitgevind dit sal ʼn hele paar behandelings neem om die tatoe te verwyder en sy en haar man het besluit om eerder hul seun, wat in daardie stadium twee jaar oud was, se naam te verander.

“Ek het nog nooit vantevore die naam ‘Kelvin’ gehoor nie. Niemand noem hul kind ‘Kelvin’ nie. En hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer het ek besef niemand anders het dié naam nie. Dit was uniek! Nou dink ons dis selfs beter as ‘Kevin’!”

Sy het onderneem om “10 000 keer” te kyk voor sy haar volgende tatoe kry vir haar derde kind, Freja.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Valerie ·

Duh, Ma. Probeer “Kelvin Kleinlik” of “Kelvin Kragstasie.”

Daan ·

Ag nee regtig, ek gee nie om wat mense se nie, maar tatoo’s gril vi my dat ek soos ons spreekwoord gaan, hoendervleis kry. Jig siesa.

Susan ·

Persoonlike smaak sal ek sê. Mense gril vir baie dinge in die lewe, bier boepense, vuil naels, ongeborselde tande, skurwe voete en so kan die lys net langer word.
Na my dogter se motor ongeluk het ek ook haar naam op my arm aangebring – en dit lyk stunning !
Soos ek gesê het smaak verskil ?

Stefaans ·

Kan nie glo mense het nog nooit van die Kelvin-skaal gehoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.