Man verbeter rekord vir langste in ys sit

Romain Vandendorpe. (Foto: Francois lo Presti, AFP)

ʼn 34-jarige gesondheidswerker van Frankryk het Saterdag ʼn uitdagende wêreldrekord verbeter om geld in te samel vir kankerlyertjies.

Romain Vandendorpe het in die Noord-Franse stad Wattrelos ten aanskoue van 50 mense vir twee uur, 35 minute en 43 sekondes in ʼn plexiglaskajuit vol ysblokkies gesit.

Vandendorpe het die vorige wêreldrekord met 40 minute verbeter.

Ter voorbereiding van dié wêreldrekordpoging het hy in ʼn yskoue jacuzzi gesit, in ʼn 500 -vrieskas geoefen en homself by die Franse ski-oord, Chamonix, in sneeu begrawe.

Hy is ook opgelei om menslike perke te oorkom deur neurokognitiewe tegnieke wat gegrond is op verbeelding en konsentrasie wat hom in ʼn soort dagdroom plaas.

Vandendorpe sê sy mantra was deurlopend heel eenvoudig. “As ons oefen en alles gee, kan ons vooruitgaan en resultate behaal wat dinge kan verbeter.”

Vandendorpe beoog om die geld wat hy ingesamel het aan die Wonder Augustine-vereniging in Wattrelos te skenk. Dié vereniging is twee jaar gelede gestig nadat Augustine, ʼn vierjarige dogtertjie met breinkanker, oorlede is.

Vandendorpe het Augustine enkele dae voor haar dood ontmoet. – AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.