Massiewe goudvis uit meer getrek

Andy Hacket het vir ‘n foto saam met Wortel gepronk voordat hy hom weer in die water vrygelaat het. (Foto: Terry Emslie/Facebook)

Die karakter uit die gewilde kinderboek Lin se vis sou hom wat verbeel. ʼn Hengelaar van Engeland het die afgelope week ʼn goudvis van 30 kg uit ʼn meer in Frankryk getrek. Dit is meer as 100 keer groter as wat die gemiddelde goudvis gewoonlik weeg en anders as Lin se goudvis, sal dié vis nie sommer weer in ʼn visbak pas nie.

Andy Hackett (42), ʼn hengelaar van Kidderminster in Worcestershire, het volgens die Daily Mail 25 minute lank gespook om die glibberige vis – wat Wortel gedoop is – uit Bluewater Lakes in die Champagne-streek van Frankryk te trek. Die vis weeg omtrent soveel as ʼn 10-jarige kind en is nou die grootste goudvis wat nog ooit gevang is.

Volgens inligting van National Geographic kan dié visspesie ongeveer 10 jaar in aanhouding oorleef en gemiddeld tussen 90 g en 300 g weeg.

Wortel ontglip hengelaars nou al die afgelope 20 jaar.

“Ek het altyd geweet dat Wortel daar is, maar ek het nooit gedink dat ek hom sou vang nie,” sê Hackett. “Dit was wonderlik om dit reg te kry, maar dit was net blote geluk.”

Hackett het daarna vir ’n foto saam met Wortel gepronk voordat hy hom weer in die water vrygelaat het.

Die tweede grootste goudvis wat nog ooit gevang is, is in 2019 deur Jason Fugate in Minnesota, Amerika, gevang. Die vis het 17 kg geweeg.

Die wêreld se gewildste akwariumvis – die goudvis – is een van die eerste visspesies wat deur die mens mak gemaak is en deur baie gesinne as ʼn  troeteldiertjie aangehou word.

Goudvisse is deel van die karpfamilie wat ook die koikarp en die krapkarp insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Lyk vir my eerder soos ‘n koi/karp, die spieël variant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.