Nuwe ‘seester’-lughawe in Beijing geopen

Beijing Daxing- internasionale lughawe (Foto: Beijing Tourism/Facebook)

Xi Jinping, president van die Volksrepubliek China, het Woensdag ʼn futuristiese nuwe lughawe geopen. Dit sal na verwagting die besigste lughawe ter wêreld word.

Die lughawe is geopen voor die viering van die Kommunistiese Party van China se 70ste jaar aan bewind.

Beijing Daxing- internasionale lughawe is ontwerp is om 72 miljoen passasiers per jaar te hanteer. Dit is geleë in die suide van Beijing en is in minder as vyf jaar gebou teen ʼn koste van 120 miljard joean (ongeveer R253 miljard).

Die lughawe se eerste kommersiële vlug, ʼn vliegtuig van China Southern-lugredery, het Woensdagmiddag opgestyg op pad na Guangdong, het die openbare uitsaaier CCTV berig. Ses ander vlugte het later die dag na Sjanghai en ander bestemmings vertrek.

Die hooflughawe in Beijing, geleë in die noordooste van die stad, is die wêreld se tweede besigste lughawe naas Hartsfield-Jackson Atlanta- internasionale lughawe en sal binnekort volle kapasiteit bereik.

Daxing, ontwerp deur Zaha Hadid, ʼn Irakees-Britse argitek, sluit die wêreld se grootste eindpuntgebou in (1 miljoen m²). Volgens die bouers sal reisigers egter nooit verder as 600 m hoef te loop om enige instaphek te bereik nie.

Die reusagtige lughawe, in die vorm van ʼn seester, is ongeveer 45 km suid van Beijing se middestad. Dit het tans vier aanloopbane, en daar is planne vir minstens nog drie aanloopbane.

Lugdienste soos British Airways en die staatsbeheerde China Southern, die land se grootste lugredery wat passasiers betref, beplan om van Beijing Capital- internasionale lughawe na Daxing te skuif.

Die hoofstad het ʼn derde lughawe, Nanyuan, vir plaaslike vlugte. Volgens die regering sal dié lughawe sy deure sluit sodra Daxing ten volle in werking is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alex ·

Mooi man, laat hulle dan maar SA se lughawens kom upgrade aangesien dit in elk geval seker aan hulle behoort.

barend v d westhuizen ·

ja een ding is verseker daar word nie gestaak by hulle nie

Robert ·

Nê, SA het darem ń nuwe put toilet ge-open in Thoyandou……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.