Oompie werk al 84 jaar vir dieselfde maatskappy

Walter Orthmann spog met die langste loopbaan by dieselfde maatskappy (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Hoe lank werk jy al vir dieselfde maatskappy – vyf jaar, tien jaar?

Die 100-jarige Walter Orthmann van Brasilië het op 6 Januarie 2022 al 84 jaar vir dieselfde maatskappy gewerk. Sy Guinness-wêreldrekord is onlangs aan hom toegeken.

Walter het op 17 Januarie 1938 as ʼn verskepingsassistent begin werk vir die tekstielmaatskappy ReneauxView in Santa Catarina, toe hy 14 jaar oud was.

Hy was nog altyd baie entoesiasties om iets nuut te leer. Hy is in Brusque, ʼn klein dorpie in Santa Catarina, gebore waar ʼn groot Duitse bevolking woon. Hy het kaalvoet skool toe gestap en dan huiswerk gaan doen. Hy was ʼn kranige student met ʼn uitsonderlike geheue en skerp sin vir besonderhede.

Weens finansiële probleme tuis, moes hy begin werk het om sy gesin te help. Hy is saam met sy ma na die wewery om vir werk aansoek te doen en omdat hy goed Duits magtig was, is hy aangestel. Hy werk sedertdien by dieselfde maatskappy.

Walter Orthmann op sy eerste dag by die maatskappy (Foto: Guinness-wêreldrekords)

“In 1938 is daar van kinders verwag om te werk om die gesin te help ondersteun,” sê Walter. “As die oudste seun van vyf kinders het ma my as 14-jarige gevat om ʼn werk te kry.”

Hy het gou uitstekende vaardighede getoon en sy bereidwilligheid om te leer en meer te doen as wat daar van hom verwag word, is hy vinnig bevorder tot ʼn posisie in verkope. Daarna het hy ʼn suksesvolle verkopebestuurder geword.

“Ek kon na São Paulo reis en in minder as ʼn week het ek bestellings gevul gelykstaande aan drie maande se werk.”

Walter glo die beste voordele om ʼn werk te hê, is dat dit vir mens ʼn doel gee, en jou help met toewyding en ʼn roetine.

Hy het in die 1950’s begin om reg oor die land te begin reis en het die geleentheid gehad om mense van verskillende plekke en kulture te leer ken. Hy was dol daaroor om gereeld op die pad te wees en het goeie verhoudings opgebou met kliënte wat ook sy vriende geword het.

Deur sy 84 jaar lange loopbaan het hy al talle veranderinge in die maatskappy, in sy land en in die wêreld gesien. Hy begryp dat een van die belangrikste dinge is om op hoogte te bly en gou aan te pas in verskillende omstandighede.

Hy het op 19 April 2022 sy 100ste verjaarsdag gevier. Hy het die dag saam met kollegas, vriende en familie deurgebring vir ʼn onvergeetlike partytjie. Sy charisma, empatie en menslikheid maak van hom ʼn sterk en betekenisvolle leier. “Wanneer mens van jou werk hou, dan besef mens nie die tyd stap aan nie.”

Walter Orthmann vier sy 100ste verjaarsdag (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Walter is baie gesond en het nog ʼn baie goeie geheue. Hy geniet ʼn kalm lewe en oefen elke dag. Hy het gevolglik genoeg lewenskragtigheid en energie om elke dag nog steeds na sy gunstelingplek te ry: die kantoor.

Hy sê die beste professionele raad wat hy kan gee, is om vir ʼn goeie maatskappy te probeer werk en in ʼn amp waar jy gemotiveer word. “Ek doen nie baie beplanning nie, ek is ook nie bekommerd oor môre nie. Al wat vir my saak maak, is dat môre nóg ʼn dag is waar ek wakker word, opstaan, oefeninge doen en werk toe kan gaan. Mens moet besig wees met die hede, nie die verlede of die toekoms nie. Hier en nou is wat saak maak. Laat ons aan die werk kom!”

Die Guinness-wêreldrekord is vir Walter ʼn eer en ʼn voorreg. Hy het nooit kon droom dat dit sou gebeur nie. “As ek terugkyk, dink ek my trotsste oomblik was toe ek as die titelhouer aangewys is as die langste loopbaan by dieselfde maatskappy, selfs al het ek nooit eers daaraan gedink nie.”

Walter het vir die eerste keer in 2019 dié rekord ontvang met 81 jaar en 85 dae by dieselfde maatskappy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

AmY ·

Wow! Baie geluk!
In SA word mans ongelukkig gedwing om op 65 af te tree, al werk hulle baie harder as die jonger mense.

Nommer 7 ·

Ek het sopas verneem van Fred Mouton se afsterwe op 75. Hy het 50 jaar vir Naspers gewerk (geteken) tot met sy dood vandag. Voorwaar ook baie jare.

Pieter ·

Ek steem saam AMy – hoekom moet mens op 65 gaan as jy jare nog kan werk. Noudat ek ouer is doen ek dinge deeglik, redeneer logies en kry die werk gedoen. Toe ke jonger was, is die werk net gedoen om dit klaar te kry.

Karel Kobus Kruger ·

Jy wil darem seker op n stadium meer tyd aan vakansies spandeer en nuwe plekke sien? Anders is dit reguit van jou lessenaar na die graf toe.

Koen ·

Begin jou eie ding of geniet ander dinge. Nuwe bloed in groot maatskappye is belangrik. Vir wat wi jy soos ‘n ou fosiel daar vasbyt. As jy nie genoeg geld het nie. Toughies. Jy moes voorsiening gemaak het.

Kompas ·

Ongelooflik!! Dink die mens se brein sal langer optimaal funksioneer as ons langer kan werk.

KatjieDeKat ·

Baie baie geluk Mnr Orhtmann!! Met hoe die SA nou begin lyk, die pryse van alles hemelhoog, lyk dit my n tyd kom weer wanneer kinders van 16 af sal moet werk om hul gesinne te help onderhou. AS hulle werk kan kry, bygese.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.