Pad gesluit sodat paddas kan paar

Argieffoto (Foto: Josch13/Pixabay)

ʼn Straat in Estland sal tydelik gesluit word om duisende paddas kans te gee om veilig by hul lente-broeigebied uit te kom.

Die straat in die Haabersti-distrik in die hoofstad Tallinn word vir twee weke lank gesluit, maar het nie ʼn impak op openbare vervoer nie.

Die adjunkburgemeester van Haabersti, Oleg Siljanov, het aan Estland se openbare uitsaaier, ERR News, gesê die straat word gesluit om massaslagting van die paddas te voorkom.

“Dié gedeelte van die Astangu tänav is een van die grootste amfibiese migrasie-deurgange in Estland, en vir ʼn kort tydjie elke jaar, in die lente, steek duisende paddas dit oor,” het Siljanov gesê. “Die pad word gesluit om ʼn veilige migrasie te verseker vir die beskermde paddas van hul wintertuiste na hul broeiplek langs die Astangu-pad.”

Vrywilligers het vorige jare die paddas gehelp om te migreer, maar weens die Covid-19-pandemie is dit nie hierdie jaar moontlik nie.

Siljanov het gesê hy hoop die inwoners sal begrip hê vir die ongerief en die beperking op die pad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.