Perd maak amok op vliegtuig

Argieffoto (Foto: Chiemsee2016 / Pixabay)

ʼn Vragvliegtuig, op pad na België, is gedwing om terug te keer na New York ná ʼn perd in die middel van die vlug uit sy krat losgeruk het, berig Amerikaanse media.

Die perd het sowat 30 minute ná die vliegtuig verlede week Donderdag opgestyg het, op 31 000 voet losgekom, volgens ʼn lugverkeerbeheer-opname.

Die vlieënier van die Air Atlanta Icelandic Boeing 747 het toestemming versoek om terug te keer na John F. Kennedy-lughawe ná bemanning nie weer die perd in sy stal kon terugkry nie.

“Daar is geen probleem met die vlug nie, maar ons moet terugkeer New York toe. Ons kan nie weer die perd vasgemaak kry nie,” het die vlieënier gesê.

Met duisende kilogram brandstof vir die transatlantiese vlug aan boord, moes die vliegtuig sowat 20 ton oor die Atlantiese Oseaan stort voor dit weer veilig in New York kon land.

Die vlug het kort ná die voorval sy reis hervat en in Liege geland, aldus vlugspoorwebwerf FlightRadar24.

Dit is nie bekend hoe die perd ontsnap of in watter toestand die perd tans verkeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.