Raaisel oor skape-in-die-rondte dalk opgelos

Skermgreep uit die video

ʼn Wetenskaplike voer aan hy het die raaisel opgelos van onheilspellende beeldmateriaal waar ʼn groot trop skape 12 dae lank in China in ʼn sirkel bly loop het.

Die video is vroeër vandeesmaand op Twitter gedeel en mense het wêreldwyd kop gekrap. Die video is deur die Chinese People’s Daily gedeel en wys hoe die trop skape kloksgewis in ʼn sirkel op ʼn plaas in Binne-Mongolië stap.

Matt Bell, ʼn professor en direkteur by die departement van landbou aan Hartpury-universiteit in Gloucester, Engeland, het aan Newsweek gesê dit wil voorkom of die skape vir ʼn lang tydperk in ʼn hok gehou is en dit het aanleiding gegee tot die gedrag. Die gestappery in ʼn sirkel is waarskynlik uit frustrasie omdat hulle in die hok moet bly en hul beweging beperk is. “Dit is nie goed nie. Die ander skape sluit by hulle aan omdat hulle tropdiere is.”

Volgens Bell toon skape tropmentaliteit, wat beteken dat hulle saam met die trop beweeg en mekaar teen roofdiere beskerm.

Die skape in China het egter sedert 4 November in die sirkel begin beweeg, aldus die berig deur People’s Daily. Daar is nie inligting beskikbaar of die skape intussen opgehou het en of hulle darem stilstaan om te vreet of te suip nie.

Die eienaar van die plaas, geïdentifiseer as mej. Miao deur die Britse Metro, het aan koerante gesê daar was aanvanklik net ʼn paar skape wat in ʼn sirkel geloop het, maar geleidelik het die hele trop in ʼn sirkel begin beweeg. Miao se skape word in 34 verskillende hokke aangehou, maar sy sê slegs een trop toon dié eienaardige gedrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê maar net ·

Dalk was daar ‘n VVV wat die grond bestraal het! :D

Wielspore ·

Diere wat gewoond is om te trek doen dieselfde, hulle vorm bande om reg te maak vir die groot trek. Wilde diere wat in klein kampe aangehou word sal heeldag dieselfde roete loop uit frustrasie. Alhoewel hierdie mak diere is, word hulle in groot getalle in klein kampe aangehou en dit is nou tyd om te trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.