Sesjarige spandeer multimiljoene aan huis

Boram (skermgreep uit YouTube-video)

ʼn Sesjarige YouTube-ster van Suid-Korea en haar ouers het ʼn huis van 9,5 miljard won (ongeveer R114 miljoen) gekoop.

Boram is die land se gewildste YouTube-ster en haar twee kanale – ʼn video-blog (“vlog”) en ʼn reeks waar sy speelgoed toets, het meer as 30 miljoen intekenare.

Die Maeli Business-koerant het berig die vyfverdiepinghuis is in Gangnam geleë, een van Seoel se rykmanswoonbuurte. Die Boram Company, wat deur die meisie se ouers gestig is, het die eiendom gekoop.

Dit klink dalk soos baie geld, maar die sesjarige verdien ongeveer R41 miljoen per maand.

Boram se video’s, wat op Boram Tube ToysReview en Boram Tube Vlog gepubliseer word, het miljoene aanhangers wat gereeld die video’s kyk. Sy sê dit voel soos “speel” en “sy maak prettige kindervideo’s – oulike herinneringe van alledaagse lewe”.

Volgens die Korea Herald verdien sy meer deur bemarkingsinkomste as enige ander YouTube-gebruiker in Suid-Korea.

Daar is egter kommer uitgespreek dat sy uitgebuit word. Die plaaslike Save The Children-tak het in 2017 haar ouers hof toe gesleep en hulle daarvan beskuldig dat hulle “finansieel baat deur kinders in situasies te plaas waar hulle onder erge sielkundige druk is” en dat hulle dan die beeldmateriaal versprei “wat ʼn negatiewe invloed het op minderjarige kykers”, aldus die Korea Herald.

Die koerant het bygevoeg daar is ook besware dat van die video’s, byvoorbeeld dié video’s wat wys hoe sy geld uit haar pa se beursie steel en een waar sy optree as of sy geboorte skenk, kan ʼn slegte invloed hê op jonger gebruikers. Die aanstootlike video’s se privaatheidsverstellings is gewysig en Boram se ouers het om verskoning gevra.

Die sewejarige Ryan Kaji van die VSA het verlede jaar ongeveer $22 miljoen (R312 miljoen) verdien met sy kanaal waar hy ook speelgoed toets. Sy kanaal het meer as 20 miljoen intekenare.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kiepie ·

Ja nee, en my kindertjies sit op skool en ek neul elke dag by hulle om pligsgetrou hulle huiswerkies te doen.

Frank ·

Ja, hierdie kant ook. Dis soos die storie:
I told my son, ” You will marry the girl I choose”.
He said , “NO”.
I told him, “She is Bill Gates’s daughter.”
He said, “OK”.
I called Bill Gates and said, “I want your daughter to marry my son.”
Bill Gates says, “NO”
En verder………

GM ·

Aan die begin was Ryan se video’s oulik, maar toe hy gewild begin raak het, het sy ouers besluit hulle wil ook nou in die video’s gesien word. (Werk die emoji op MM van die vroutjie wat haar hand uit moedeloosheid teen haar voorkop sit? – dit sal nou te gepas kom).
Ek het self al gewonder hoeveel van die Youtube sterre vir hul ouers se huise moet betaal.
“Mens kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie”, nè?

Blikke ·

Kan ek haar nie maar aaneem nie? Kan nogal werk as ek my ou huisie kan afbetaal en dan nog n winsie kan maak……niemand gaan enigiets mis met 41 miljoen n maand nie.

Essa ·

Ja jong, dis hoe dit lyk as jou idee van malligheid ander se idee van normaal is. Maar hierdie is gek verby.

RayRay ·

Maar julle lot LOOOOOVE the voice kids, masterchef kids, chopped kids. Ja nee. Saffas en hul dubble standaarde.

Jan ·

Daarsy Ray Ray! Net so! Die mense maak nou net n klein bietjie teveel en dit maak sekere mense nou suur!,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.