‘Skoolpolisie’ wil snoepgoed beperk

Argieffoto (Foto: PDPics/Pixabay)

Leerlinge het glo inkopiesakke vol skyfies, lekkergoed en koeldrank saamgebring skool toe.

ʼn Skooldistrik in Pennsilvanië in die VSA se plan om ʼn beperking te plaas op leerlinge se middagetes, het groot oproer veroorsaak. Sommige ouers verwelkom die besluit, maar ander beskryf dit as die “middagete-polisie”.

Die Aliquippa-skooldistrik het verlede week in ʼn plasing op Facebook gesê leerlinge by die Aliquippa Junior/Senior High School se sakke sal van Maandag af deursoek word. Enigiemand wat meer as 113 g skyfies of 590 ml koeldrank saambring skool toe, sal die oortollige hoeveelheid moet weggooi, berig NBC.

Die distrik, noord van Pittsburgh, sê leerlinge wat hul eie middagete skool toe bring, sal nie kwytgeskel word nie. Leerlinge het glo inkopiesakke vol skyfies, lekkergoed en koeldrank saamgebring skool toe.

Superintendent Phillip Woods het aan WPXI gesê leerlinge verkoop en dryf handel met hul snoepgoed en dit lei tot ʼn stryery. “Ons moet na die groter prentjie kyk en verstaan wat redelik is,” sê hy. “Ek dink nie enige kind moet ʼn gesinsgrootte pak skyfies saambring vir die dag nie. Die kinders gaan nie honger ly nie, hulle het gratis etes vir ontbyt en middagete.”

Die Facebook-plasing is intussen verwyder ná dit honderde negatiewe kommentare ontvang het. Sommige gebruikers het gesê die distrik “moet nie hul neuse in ouers se sake druk nie”. “As middagetes by die skool dalk nie so klein en grillerig was nie, dan hoef hulle nie ekstra snoepgoed saam te vat nie,” het een persoon geskryf, aldus Education Week.

“Dankie vir almal se terugvoer,” het die distrik gesê. “As jy kinders in die distrik het, kontak asseblief die skoolhoof. As jy net ʼn internet-kommentator is, gaan voort met jou eie sake.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johanna ·

In tye van werkloisheid is dit nou: Job Creation. Werkverskaffing

Jack Russ1 ·

Niks met job creation te doen nie

Volgende jaar moan die wat dit so teenstaan weer dat hulle oorgewig is. As die mense nie vir hulle self kan perke stel nie, moet ander hulle seker maar probeer help

VaalDonkie ·

Ek het ‘n vriend gehad wat swiets by die skool verkoop het. Nogal goed geld gemaak ook. Hy’t later ook begin musiek-CD’s verkoop. Dit was in die laat 90’s toe CD’s in was, maar dit nog moeilik was om “mix-CD’s” self te maak.

Jack Russ1 ·

113g is ‘n groot pak skyfies en 590ml koeldrank is meer as genoeg vir ‘n skooldag. Kan gerus maar ‘n paar vrugte en water inpak

Leon ·

Hoe is hierdie inligting en nuus enigsins op ons van toepassing? Of hulle leerders nou 200g pakke vat of 500g? Een skool in die hele VSA wat nou sensasie kry… Oh my

AmY ·

Op skool het ek toebroodjies gekry. Twee vir eerste pouse twee vir tweede pouse en twee vrugte.
Dit het my vroeg van ‘beplanning geleer’, want daai ‘lunch’ moes jou tot 14h00 gehou het.
Die water het ons sommer in die badkamer se wasbak of die buitekraan gedrink.
Soms het jy sommer ‘n sluk van jou maat se sap gevat wanneer díé so gelukkig was om ‘n sap skool toe te kon bring.
Ai, die 80’s was so kommerloos gewees.

Christa ·

As kinders het ons 1 keer ñ maand lekkers gekry. Dit is wanneer daar kruideniers gekoop was. Hoe jy dit deel of eet was jou saak. “Peanut Butter en stroop” of “Marmite” broodjies en partykeer ñ vrug was aan die orde van die dag. Water sommer by die skool gedrink. Lekker ou dae!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.