Video: Dolfyne swem in Venesië se kanale

Skermgreep uit die video

JONGSTE: Alhoewel Maroela Media verskeie bronne geraadpleeg het voor die artikel oorspronklik op ons Gedoriewaar-portaal gepubliseer is, is hierdie nuus intussen as vals nuus bevestig. Lees gerus die artikel op National Geographic en Snopes.com

Te midde van die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19) trek Moeder Aarde voordeel waar lande en stede tot stilstand gedwing is.

Wilde diere wat gewoonlik die Italiaanse kus en Venesië se kanale vermy het nou teruggekeer danksy ʼn gebrek aan toerisme en passasiersbote wat in die hawe aandoen.

Meer as 31 000 gevalle van Covid-19 en meer as 2 500 sterftes is in Italië aangemeld. Die strate van Italië en gewilde toeriste-aantreklikhede was die afgelope weke doodstil nadat Italië se regering ʼn noodtoestand verklaar het. Mense is sedertdien aangemoedig om tuis te bly.

Inwoners van Venesië het ook ʼn verandering in die natuur opgemerk toe talle visse en swane na die kanale begin terugkeer het. Dié wêrelderfenisgebied is verlede jaar op sy knieë gebring toe hoogwater byna die stad oorstroom het. Sedert die stad onlangs onder kwarantyn geplaas is weens Covid-19, is die kanale vir die eerste keer in etlike jare só skoon dat mens onder die water kan sien.

Venesië se burgemeesterskantoor het aan CNN gesê die kanale lyk dalk skoner, maar die watergehalte het nie noodwendig verbeter nie. “Die water lyk net skoner omdat daar minder verkeer op die kanale is. Die sediment bly dus op die bodem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.