Die Turkse maatskappy, Letvision, het onlangs ʼn funksionele “Transformer” vervaardig, wat nes in die gelyknamige flieks, van ʼn motor verander in ʼn yslike robot wat nek-, hand- en armbewegings kan uitvoer.
Dié Transformer, wat gemaak is van ʼn BMW 3-reeks motor, werk met afstandbeheer in die motor- en robotfunksie.
Volgens Letvision kan dié robot sy kop 120˚ draai en ook praat deur middel van die afstandbeheer.
Hoewel die robot in motorfunksie nog nie op die ooppad kan ry nie, het Letvision gesê die funksie sal in die nabye toekoms bygevoeg word, aangesien die Transformer reeds ʼn elektriese enjin het.
Vier ander Transformers is ook deur die maatskappy vervaardig en word binnekort bekendgestel.
Dié robotte het elkeen kreatiewe name soos Bizmut, Argon, Wolfram en Tantal.
Die maatskappy het egter nog nie bekend gemaak wat só speelding jou uit die sak sal jaag nie en of dit enigsins vir die publiek sal beskikbaar wees nie.
Bron: Autoblog
Verstommend. Waar gaan die tegnologie heen?