Video: Oeps! Vrou duik amper in haai se bek in

Skermgreep uit die video

ʼn Vreesaanjaende video wys die oomblik toe ʼn vrou byna reg in ʼn haai se bek ingespring het.

Dit is ʼn ou video, maar word nou weer wyd op sosiale media versprei.

Die duiker is Ocean Ramsey, ʼn mariene bewaarder, aldus Today. Sy plaas gereeld video’s van haar ontmoetings met haaie op haar Instagram-blad.

Hierdie video het opnuut opslae gemaak toe dit Vrydag deur die gebruiker “Wow Terrifying” gedeel is. Die video is oor die naweek reeds meer as 2,4 miljoen keer gekyk.

Dit wys hoe Ramsey terugklim op die boot net toe die haai sy bek oopmaak om te hap.

Die tierhaai raak byna haar paddavoet voor hy weer wegswem.

Die video is gedeel met die byskrif “Spring in” en sal jou laat dink aan ʼn toneel uit enige gewilde haaifliek soos Deep Blue Sea of Jaws.

Ramsey het aanvanklik die video in Oktober 2022 op haar Instagram-profiel gedeel. Die voorval het in Hawaii plaasgevind. Sy het die haai geïdentifiseer as Queen Nikki.

“Ons is dol oor tierhaai Queen Nikki se entoesiasme om @oceanramsey te groet. Ocean het haar vinnig genader, maar geweet om reg op te tree eerder terug te tree.” Volgens die plasing het die duiker darem meer gelag as wat sy geskrik het.

Volgens Wikipedia is die tierhaai (Galeocerdo cuvier) ‘n groot haaispesie wat vanaf Valsbaai tot by Mosambiek aan die Suid-Afrikaanse kus voorkom. Dit is een van die min haaie wat gevaarlik is vir mense. Die volwasse haaie het donkerder, vertikale strepe oor die rug. Hulle het ‘n knipvlies (‘n membraan wat oor die oë kan beweeg), twee rugvinne, ‘n buikvin en vyf kieusplete. Die tierhaai het ook ‘n opvallende kort en stomp snoet. Die haai word tot 5,5 m lank en 900 kg swaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.