Video: Só lyk ma van 10 se aandroetine

Die Dougherty-gesin (Foto: Dougherty Dozen/Instagram)

Alicia Dougherty (40) en haar man, Josh, het vier biologiese kinders en ses kinders wat hulle uit pleegsorg aangeneem het. Josh is ʼn onderwyser in Pittsford, New York in die VSA. Hy gee klas vir hoërskoolleerders wat spesiale onderrig benodig.

Ná Josh en Alicia in 2003 getrou het, het hulle met vrugbaarheid gesukkel en 11 miskrame gehad. Hulle het uiteindelik besluit om hul eerste kind, Alex (nou 15), uit pleegsorg aan te neem. Hy was in daardie stadium vyf jaar oud. Ses dae later, het hulle uitgevind hulle is swanger met Zoey (nou nege jaar oud). Die egpaar het uiteindelik nog drie biologiese kinders gehad en nog vyf kinders uit pleegsorg aangeneem.

Al ses van die Doughertys se aangenome kinders is gebore met fetale alkoholspektrumsiekte (FASD), ʼn rits toestande wat plaasvind wanneer alkohol van die ma na haar ongebore kind oorgedra word. FASD veroorsaak fisiese probleme en gedrags- en opleidingsuitdagings.

Die Dougherty-kinders en hul ouderdomme (Foto: Dougherty Dozen/Instagram)

Alicia stel in die oggende voor skool soms haar wekker vir ongeveer 03:00 sodat sy kan opstaan om koffie en ontbyt te maak en die kinders se rugsakke kan nagaan vir huiswerk en waterbottels. Die tieners staan 06:00 op en vertrek om 07:00. Dan maak sy die volgende groep kinders wakker sodat hulle om 08:00 kan vertrek. Wanneer dit winter is, sluit die proses ook hoede, handskoene en sneeubroeke in.

“Tussen 06:00 en 08:00 is dit net gaan gaan gaan malligheid. En dan kan ek asem haal,” het sy vroeër in ʼn onderhoud met MSNBC gesê. Sy kom gewoonlik in die aande nie voor 23:30 in die bed nie. “Ek het sowat 20 ure in my dag – mens kan baie in 20 ure vermag!”

Tydens die pandemie het Alica ʼn profiel op die sosialemedianetwerk TikTok geskep, genaamd @doughertydozen. Sy het reeds 3,3 miljoen volgelinge en die gesin se storie is reeds op Good Morning America en die Drew Barrymore Show gedeel.

Dis egter Alicia se uitputtende aandroetine wat onlangs opslae gemaak het, en mense krap kop oor een takie op haar lys. Sy het ʼn video op TikTok gedeel van wat sy alles doen sodra haar kinders in die bed klim. Die video is reeds meer as 13 miljoen keer gekyk.

In die video maak sy huis skoon, sy pak die kinders se middagete, was skottelgoed, maak die badkamer skoon, en maak seker dat hulle jasse gereed is vir die volgende dag. Sy pak ook vir elke kind ʼn paar droë handskoene en ʼn ekstra gesigmasker.

Daarna stofsuig sy die matte en maak seker dat al die kinders se tabletrekenaars gelaai word.

Sy sit selfs tandepasta op hul tandeborsels – en dis hieroor waar kykers kopkrap. “Kan hulle dit nie self doen nie? Of kan hulle nie help skoonmaak nie?” wil een kyker weet. “Tweederdes van daai kinders is oud genoeg om dit self te doen!” het ʼn ander laat weet.

Die oudste seun, Alex, se tandeborsel is nie op die foto nie (Foto: Dougherty Dozen/TikTok)

Meeste het egter Alicia geprys as ʼn “superma”.

Wat kos dit om só gesin aan die gang te hou? Alicia het in een video ʼn strokie gedeel van hul weeklikse kruideniersware en dit beloop $1 007 (sowat R15 000). Die gesin het oor Kersfees $16 000 (byna R250 000) spandeer aan ʼn nuwe fiets vir elke kind; rekenaars, tabletrekenaars en selfone vir die kinders; geskenke vir die aanneemkinders se biologiese broers en susters en selfs ʼn vliegtuigkaartjie sodat een van die kinders se biologiese ma kon kom kuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Prontuit ·

maak my moeg net om daaraan te dink busy busy busy wow superma beslis! maar ek moet erken daar is ‘n hele paar handtjies wat al klaar groot genoeg is om hand by te sit en uit te help , van no 6 af is al groot genoeg om mooi te kan verstaan en kan help met iets al is dit klere en handoeke van vloer af optel ;-) dink sy kort ‘n laaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaang vakansie en ‘n koue bells

Niklaas ·

Eerder hulle as ek. Sien nie eers kans vir die helfte nie . Tog bewonder ek hul ywer en harte vol liefde. Nie enigeen wat daarvoor sal kans sien nie.

Misky ·

Nee sjoe, ek is moeg net om na die video te kyk van haar wat so doenig is. Min mense wat so iets sal aanvat en ek sou hulle lankal geleer het om agter hulself skoon te maak.

madels ·

Die ma doen die ouer kinders geen guns nie, n familie lid was met n man getroud wie se ma alles vir hulle gedoen het, dit was bittere hel … Kinders moet van klein tyd af leer om verantwoordelikheid sin te hê en hard te werk…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.