Video: Waardevolle Disney-kunswerk in die asblik gevind

Die Bambi-tekening (Foto: CBC)

ʼn Hawelose man het onwetend in ʼn asblik op ʼn waardevolle kunswerk van die fliek Bambi afgekom.

Adam, ʼn hawelose man van Edmonton in Kanada, was in ʼn asblik op soek na goedere wat hy dalk by ʼn tweedehandsewinkel kon verkoop, toe hy op ʼn plakkaat van die Disney-fliek, Bambi, afgekom het, berig CBC.

Die winkel se eienaar, Alex Archbold, het belanggestel in die kunswerk en het CAD20 (ongeveer R210) vir die geraamde plakkaat betaal. Archbold het gedink dit is ʼn replika wat hy vir tussen $80 en $100 sou kon verkoop as hy dit bietjie sou skoonmaak en in ʼn nuwe raam sou sit.

Toe hy egter die plakkaat uit die raam haal, was daar ʼn kopieregdatum van 1937 met ʼn sertifikaat van egtheid. Dit was ʼn oorspronklike tekening wat in die fliek gebruik is.

Hy het dit uiteindelik vir CAD3 700 (meer as R39 000) verkoop.

Archbold het gedink Adam verdien ook sy deel van die wins, al was hy aanvanklik tevrede met die $20. Dit was egter moeilik om Adam op te spoor! Hy het twee weke lank elke oggend na Adam gaan soek en uiteindelik van sy vriende opgespoor om vir hom ʼn boodskap te stuur.

Adam het uiteindelik by die winkel opgedaag en sy deel van die wins CAD1 700 (ongeveer R18 000) plus ʼn gratis middagete gekry!

Archbold verduidelik in die volgende video presies wat gebeur het en deel ook die oomblik wanneer hy die opbrengs aan Adam oorhandig. Hy het Adam gehelp om ‘n bankrekening oop te maak om die geld te deponeer en het ook intussen met ‘n Go Fund Me-veldtog begin om Adam weer op sy voete te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Snowball ·

Alex Archbold jy is ‘n man met integriteit –
dit was sowaar nie toeval dat die tekening uiteindelik by jou beland het nie. Mooi storie!

Fly on the wall ·

Al wat my opgevang het is hoe mooi skoon die strate is..

Maria ·

Min sal hawelose man opspoor vir jou self hou. Mag hierdie man seen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.