Maci Currin (17), van Cedar Park in Texas in die VSA, se naam is in die Guinness-wêreldrekordboek vir 2021 opgeteken as die vrou met die langste been en die tiener met die langste bene.
Kristen Stephenson van Guinness-wêreldboek berig Maci se linkerbeen is 135.267 cm lank en haar regterbeen 134.3 cm.
Maci se gesin is ook almal relatief lank, maar nie een van haar ouers of broers of susters is so lank soos sy nie. Sy staan 2,08 m in haar skoene, en haar bene verteenwoordig dus ongeveer 60% van haar lengte. Sy wou graag dié rekord agter haar naam skryf sodat lang mense wêreldwyd nie skaam sou wees oor hul lengte nie.
Lang bene het voordele en uitdagings. “Ek is nooit geboelie oor my bene nie. Ek is geboelie omdat ek langer was as almal,” het Maci gesê. “In my [tweede jaar in die hoërskool] het ek nie meer omgegee wat mense van my dink nie. Toe ek nie meer bekommerd was oor wat mense van my dink nie, is ek nie meer daardeur geraak nie. Ek hoop dat lang vroue kan sien dat lengte ʼn geskenk is en dat mens nie hoef skaam te wees as mens lank is nie – mens moet dit waardeer.”
Alhoewel dit vir haar moeilik is om deur sekere deure te loop, in motors te klim of klere te kry wat pas, bied haar lang bene talle voordele – veral wanneer sy vlugbal speel.
Macy het in 2018 besef sy het langer bene as die gemiddelde vrou toe iemand wou weet of hulle spesiaal vir haar ʼn spanbroek kon maak. Sy het toe ondersoek ingestel of sy dalk met die Guinness-titel kon spog, en nou is sy deel van geskiedenis.
Sy is baie gewild op die sosialemediaplatform TikTok en geniet dit om video’s te maak waar sy met haar lang bene spog. Sy wil graag in die Verenigde Koninkryk gaan studeer en hoop om eendag die wêreld se langste professionele model te word.
- Maci Currin (Foto: Guinness Wêreldrekords)
- Maci Currin en haar ma (Foto: Guinness Wêreldrekords)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
jinne, nou daai bene is lank.
Is daar ‘n kompetisie vir die grootste voete ook ?
Genugtig!
ek verstaan nie so mooi nie ,is daar ‘n verskil in die lengte van die bene.
Daai bene is dan langer as ‘n Desember vakansie