Vierjarige publiseer sy eerste boek

Saeed Rashed AlMheiri (Foto: Guinness-wêreldrekords)

ʼn Vierjarige seuntjie van die Verenigde Arabiese Emirate het ʼn Guinness-wêreldrekord ontvang as die jongste individu (manlik) om ʼn boek te publiseer. Ouderdom is beslis nie ʼn hindernis vir sukses nie!

Volgens Guinness-wêreldrekords is Saeed Rashed AlMheiri van Abu Dhabi op die ouderdom van 4 jaar en 218 dae die wêreld se jongste persoon om ʼn boek uit te gee.

“Sy rekord is op 9 Maart 2023 bevestig ná hy 1 000 eksemplare van sy kinderboek, The Elephant Saeed and the Bear, verkoop het. Dit is ʼn storie oor goedhartigheid en ʼn onverwagse vriendskap tussen die twee diere,” aldus Guinness.

Saeed is egter nie die enigste een in die gesin met ʼn wêreldrekord nie. Sy ouer sussie, AiDhabi, is die jongste persoon (vroulik) om ʼn tweetalige boek uit te gee. Sy was die inspirasie vir Saeed se boek en is sy grootste ondersteuner en mentor.

AiDhabi is boonop een van die jongste entrepreneurs in die land en bestuur ʼn plaaslike uitgewery, Rainbow Chimney Educational Aids.

AiDhabi het boonop ook ʼn unieke veldtog van stapel gestuur, genaamd Books from Children to Children. Dié inisiatief moedig kinders tussen vier en 10 jaar oud om in Arabies of in Engels boeke te skryf en seker te maak dat die outeur, illustreerder, uitgewer en lesers van ʼn boek almal kinders is!

“Ek is so lief vir my sussie en ek geniet dit om saam met haar te speel,” het Saeed aan Guinness gesê. “Ons lees, skryf, teken en doen baie ander dinge saam. Sy het my geïnspireer om my eie boek te skryf.”

Saeed se boek gaan oor die olifant genaamd Saeed en ʼn ysbeer. Die olifant wou ʼn piekniek hou toe hy die ysbeer opmerk. Hy het gedink die ysbeer gaan hom opvreet, maar die olifant was vriendelik en het die ysbeer genooi om saam met hom piekniek te hou. Hulle het vriende geraak en was goedhartig teenoor mekaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.